Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Tsjad se president sterf in gevegte met rebelle
Pres. Idriss Déby van Tsjad. Foto: Reuters

Idriss Déby, die president van Tsjad wat sy land langer as 30 jaar regeer en ’n belangrike Westerse bondgenoot in die stryd teen Islamitiese militante in Afrika was, het in gevegte met rebelle gesterf.

’n Oorgangsraad van militêre offisiere het Mahamat Kaka, Déby se seun, intussen as tussentydse president aangestel.

Déby (68) het in 1990 ná ’n rebellie aan bewind gekom en was een van Afrika se langste regerende leiers. Hy het talle staatsgreeppogings en rebellies oorleef.

Sy dood is aangekondig ’n dag nadat hy as die wenner in die verkiesing verklaar is wat hom ’n sesde ampstermyn as president sou gee. Die oorgrote meerderheid van die opposisie in Tsjad, wat oor sy onderdrukkende leierskap gekla het, het die verkiesing geboikot.

Déby is Maandag op ’n besoek aan sy land se soldate in die voorste linie dood nadat rebelle oor die noordelike grens van Libië honderde kilometer suidwaarts na Tsjad se hoofstad, N’Djamena, gevorder het.

Déby is in die gevegte gewond en is later dood. Sy lyk is na N’Djamena geneem.

Die regering en die nasionale vergadering is ontbind en ’n landwye aandklokreël is van 18:00 tot 05:00 ingestel.

“Die nasionale oorgangsraad wil die mense van Tsjad gerusstel dat alle maatreëls getref is om vrede, veiligheid en die republikeinse orde te waarborg,” het Azem Bermendao Agouna, regeringswoordvoerder, ná Déby se dood gesê.

Déby het Tsjad se grondwet in 2018 verander wat hom in staat sou stel om tot 2033 aan bewind te bly.

Hy het voor verlede week se presidentsverkiesing gesê hy sal weer wen soos wat hy die afgelope 30 jaar gewen het.

Déby moes die laaste tyd toenemende druk verduur van opposisiegroepe oor ontevredenheid oor sy bestuur van die land se oliebronne en die onderdrukking van enigiemand wat teen sy regering gekant is.

Westerse lande het egter Déby as ’n waardevolle bondgenoot beskou in die stryd teen Islamitiese ekstremistegroepe, waaronder Boko Haram in Tsjad en groepe wat met Al-Kaïda en Isis in die Sahel-gebied verbind word.

Sy dood is ook ’n terugslag vir Frankryk wat sy operasies teen terrorisme in Sahel vanuit N’Djamena beheer het.

Die rebellegroep Front vir Verandering en Eensgesindheid in Tsjad, wat oor die noordelike grens met Libië gesetel is, het op verkiesingsdag ’n grenspos aangeval en toe honderde kilometer suid gevorder. Tsjad se weermag het egter die rebelle sowat 300 km van N’Djamena gestuit.

Die rebelle het erken dat hulle Saterdag verliese gely het, maar het bygevoeg dat hulle die laaste twee dae weer veld gewen het. – Reuters

https://www.reuters.com/world/africa/chad-president-idriss-deby-has-died-says-army-spokesman-2021-04-20/

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.