Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Turkye onttrek aan verdrag wat vroue beskerm

Pres. Tayyip Erdogan van Turkye het die land onttrek aan ’n internasionale verdrag wat gemik is daarop om vroue teen geweld te beskerm.

Dié stap, wat Saterdag aangekondig is, het heelwat kritiek uitgelok uit die geledere van diegene wat meen die verdrag is nodig om toenemende gesinsgeweld te takel.

Betogers in Ankara maak Saterdag kapsie teen Turkye se besluit om te onttrek uit 'n verdrag vir vroueregte. Foto: Reuters

Die verdrag van die Europese Raad (CoE), wat die Verdrag van Istanbul genoem word, het onderneem om gesinsgeweld te voorkom en uit te skakel, oortreders te vervolg en gelykheid te bevorder. Turkye het dit in 2011 onderteken, maar die afgelope jare het moord op vroue in die land toegeneem.

Geen rede is verskaf vir die onttrekking wat in die staatskoerant aangekondig is nie. Top-regeringsamptenare het egter gesê plaaslike wetgewing sal eerder ingespan word om vroueregte te beskerm, pleks dat oplossing van buite afgedwing word.

Die verdrag het Erdogan se regerende AK-party (AKP) en selfs sy familie verdeel. Verlede jaar het amptenare gesê die regering oorweeg dit om te onttrek te midde van die vurige debat oor hoe om toenemende geweld teen vroue te bekamp.

“Ons word elke dag wakker met die nuus van nog ’n moord op ’n vrou,” het Hatice Yolcu, ’n student in Istanbul, gesê, waar honderde vroue met pers vlae saamgetrek het uit protes teen die onttrekking.

“Die moorde hou nie op nie. Vroue sterf. Daar gebeur niks met mans nie,” het sy gesê.

Marija Pejcinovic Buric, sekretaris-generaal van die CoE, bestaande uit 47 nasies, het Turkye se besluit “verwoestend” genoem.

“Dit is ’n groot terugslag, juis te meer omdat dit oor die beskerming van vroue in Turkye, Europa en elders gaan.”

Baie konserwatiewes in Turkye en in die Islamitiese AKP van Erdogan sê die verdrag ondermyn gesinstrukture en moedig geweld aan.

Sommige is ook vyandiggesind teenoor die verdrag se beginsel van geslagsgelykheid en beskou dit as bevordering van homoseksualiteit, gegewe die uitgangspunt dat daar nie op grond van seksuele oriëntasie teen iemand gediskrimineer mag word nie.

“Die behoud van ons tradisionele sosiale struktuur” sal die waardigheid van Turkse vroue beskerm, het Fuat Oktay, die visepresident, op Twitter gesê. “Vir hierdie verhewe doel is dit nie nodig om die oplossing buite te soek of ander na te volg nie.”

Zehra Zumrut, minister van gesins-, arbeids- en sosiale beleid, het gesê die grondwet en huidige wette waarborg vroueregte.

‘Skande’

Kritici van die onttrekking sê dit veroorsaak dat Turkye nog meer uit pas is met die Europese Unie, waarvoor dit steeds ’n kandidaat is om aan te sluit. Hulle voer aan die verdrag, en verwante wetgewing, moet strenger toegepas word.

Duitsland het gesê Turkye se besluit dra die verkeerde boodskap oor. “Nóg kulturele, nóg godsdienstige of ander nasionale tradisies kan as ’n verskoning dien om geweld teen vroue te ignoreer,” het die Duitse ministerie van buitelandse sake gesê.

Turkye hou nie amptelike statistieke oor moord op vroue nie.

Volgens ’n groep wat dit wel monitor, het dit die afgelope dekade verdriedubbel. Vanjaar is daar tot dusver 78 vroue vermoor of onder verdagte omstandighede dood.

Syfers van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) toon dat 38% van die vroue in Turkye in hul leeftyd onder geweld van ’n maat sal deurloop, vergeleke met 25% in Europa.

“Hierdie onnoselheid, patriargie en harteloosheid wat boelies en moordenaars pleks van vroue beskerm, is ’n skande,” het die Turkse skrywer Elif Safak op Twitter in reaksie op die onttrekking gesê.

Ekrem Imamoglu, burgemeester van Istanbul en verbonde aan die vernaamste opposisieparty, het gesê die onttrekking aan die verdrag is “pynlik” en dat dit vroue se stryd oor jare heen misken.

Turkye is nie die eerste land wat ’n probleem met die verdrag het nie. Die hoogste hof in Pole het die verdrag onder die loep geneem nadat ’n kabinetslid gesê het Pole moet uit die verdrag onttrek omdat dit te liberaal is vir die konserwatiewe regering in die land.

Terwyl kritici meen dat sy regering nie genoeg gedoen het nie, het Erdogan geweld teen vroue veroordeel en vandeesmaand gesê hy sal werk maak daarvan om dit uit te roei. Geweldenaars is geïdentifiseer en ’n slimfoon-app vir vroue is bekend gestel om die polisie oor voorvalle van geweld in te lig.

Erdogan se besluit volg nadat hy vandeesmaand geregtelike hervormings aangekondig het, wat volgens hom regte en vryhede sal verbeter om aan EU-standaarde te voldoen.

Gesprekke oor Turkye se lidmaatskap aan die handelsblok staan al jare lank botstil oor beleidsverskille en Turkye se swak menseregte-rekord. – Reuters

Meer oor:  Vroueregte  |  Turkye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.