Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Tyd raak min vir ooreenkoms vir Brittanje, EU ná Brexit

Brittanje en die Europese Unie (EU) het Maandag steeds samesprekings gevoer in ’n finale poging om ’n handelsooreenkoms wat almal pas ná Brexit te bereik.

Die Britse regering het volgens die BBC gesê dat die onderhandelings ’n kritieke stadium bereik het met geskille oor visvang en sakereëls wat voortduur.

Die EU het gemoedere as “somber” beskryf toe Michel Barnier, die hoofonderhandelaar en sy Britse eweknie, Lord Frost mekaar ontmoet.

As daar teen 31 Desember nog nie ’n handelsooreenkoms is nie, kan Brittanje en die EU invoerheffings op mekaar se goedere instel.

Penny Mordaunt, LP en vorige minister van verdediging, het Maandag in die Britse laerhuis gesê dat onderhandelinge “ ’n kritieke stadium” bereik het.

Sy het bygevoeg: “Ons is almal besig om ’n ooreenkoms te bewerkstellig, maar die enigste wyse waarop dit moontlik is, is wanneer dit versoenbaar is met ons soewereiniteit en die beheer oor ons land se handel en waters.”

Volgens Mordaunt is die Britse regering bereid om van die onderhandelingstafel weg te stap indien die EU nie “kompromieë kan vind nie.”

Op ’n vraag oor ’n finale afsnypunt vir ’n ooreenkoms, het ’n woordvoerder van die Europese Kommissie gesê: “Ons gaan nie bespiegel oor ’n laaste kans nie.”

Elf maande vir ’n ooreenkoms

Hoewel Brittanje reeds op 31 Januarie die EU verlaat het, het handelsmaatreëls soos normaal voortgegaan terwyl ’n nuwe ooreenkoms beding word.

Brittanje en die EU het tot 31 Desember tyd om ’n handelsooreenkoms te sluit en oor ander kwessies, soos visvangregte, ooreen te kom.

Indien daar in die tyd nie ’n ooreenkoms bereik word nie, sal belasting en heffings by grense ingestel word vir goedere wat tussen Brittanje en die EU vervoer word.

Die EU waarsku dat Britse vissers nie meer spesiale toegang tot die EU-markte sal hê om hul goedere te verkoop nie. Brittanje skop vas oor wat in sy eie waters aangaan en in der waarheid onder sy beheer as ’n soewereine land behoort te wees.

Brittanje en die EU stamp ook koppe oor die sogenaamde “gelyke speelveld” – ’n stel gedeelde reëls en standaarde om te verseker dat ondernemings in een land nie ’n onregverdige voordeel bo hul mededingers in ander het nie.

Brussels wil hê dat die Britte aan die EU-reëls oor werkersregte, omgewingsregulasies en staatshulp, moet voldoen. Brittanje sê egter die doel van Brexit is juis om vry te wees van algemene reëls en sy nasionale soewereiniteit te bevestig. Die twee partye stem ook nie saam oor die oplossing van toekomstige handelsgeskille nie.

Indien Brittanje en die EU ’n ooreenkoms bereik moet dit in ’n regsteks verander en in alle EU-tale vertaal word en dan teen 31 Desember deur die Europese parlement bekragtig word. Die sperdatum is ook van toepassing op die Britse regering en parlementslede.

Reuters berig Barnier het in ’n aparte inligtingsessie aan lede van die Europese parlement gesê dat onderhandelinge tot Woensdag kan aanhou, maar nie langer as dit nie.

“Mense moet verstaan dat die Britte hier met vuur speel en dat die vuur almal kan verbrand. Dit is iets wat ons almal moet probeer vermy,” het Mairead McGuinness, Ierland se kommissaris in die uitvoerende gesag van die EU, Maandag gesê.

Met net enkele dae oor voordat daar moontlik ’n ooreenkoms bereik word, het die EU-diplomate gesê dat dit ’n beslissende oomblik vir sowel Brittanje as die blok is wat na afloop van die Tweede Wêreldoorlog die verwoeste nasies van Europa tot ’n wêreldmag uitgebou het.


Meer oor:  Michel Barnier  |  Brexit  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.