Die Ugandese opposisieleier Bobi Wine se party sê hulle is gereed om pres. Yoweri Museveni uit te daag nadat hy Saterdag tot oorwinnaar in die land se presidentsverkiesing verklaar is.
Wine kon nie Sondag bereik word nie. Soldate omring sy huis en volgens sy Nasionale Verenigde-party is Wine en sy vrou onder huisarres. Joernaliste kan nie naby Wine se huis kom nie.

Lede van die veiligheidsmagte het Saterdag die ingang na die opposisieleier Bobi Wine se eiendom in Kampala, Uganda, versper. Foto: Getty Images
“Ons het bewyse van vervalste stembriewe en ander vorms van verkiesingsbedrog. Ons sal die nodige stappe doen om dié bedrog aan die kaak te stel,” het Maathias Mpuuga, woordvoerder van Wine se party, Sondag gesê.
Die verkiesingskommissie het Saterdag bekend gemaak dat Museveni 59% van die stemme op hom verenig het teenoor Wine se 35%.
Beide Amerika en Brittanje het reeds in verklarings gevra dat ondersoek na die beweerde verkiesingsbedrog gedoen word. Die Afrika Unie, wat ’n afvaardiging na die land gestuur het om die verkiesing te monitor, het nog nie ’n woord oor Museveni se oorwinning gerep nie.
Die verkiesing is gekenmerk deur veiligheidsmagte wat op kandidate en ondersteuners van die opposisie toegeslaan het. Inwoners se toegang tot die internet is ook afgeskakel.
Die 76-jarige Museveni is reeds sedert 1986 aan die bewind en een van Afrika se langsdienende leiers. Hy het kort ná sy oorwinning gesê die verkiesing is moontlik een van die “mees bedrogvrye” verkiesings in die land se geskiedenis. – Reuters