Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Uiteindelik! Brexit is gedoen!

’n Donkerblou leergebinde lêer met die amptelike Brexit-dokumente is Woensdag deur Brittanje se aangewese ambassadeur in die Europese Unie (EU) aan ’n senior EU-amptenaar vir ’n finale koebaai-handtekening oorhandig.

Sir Tim Barrow, Brittanje se permanente verteenwoordiger in die Europese Unie, oorhandig die Brexit-dokumente aan Jeppe Tranholm-Mikkelsen, sekretarisgeneraal van die Europese raad. Foto: AP

Drie en ’n half jaar nadat die Britte gestem het om uit die EU pad te gee, het ’n glimlaggende Tim Barrow die bekragtigingsdokumente aan Jeppe Tranholm-Mikkelsen, sekretaris-generaal van die EU, oorhandig.

Die EU sal Vrydag die ooreenkoms afteken en daarmee is Brittanje uit die EU.

Tegnies sal dit nog lank duur – eers sal ’n status quo-oorgangstadium tot einde vanjaar geld en nuwe onderhandelinge in ’n nuwe verhouding aan die gang kom. Dit sal alles van nuuts af op die tafel sit – van handel tot veiligheid.

Vrydag om middernag (Belgiese tyd) sal Britse vlae uit die EU-kantore verwyder word en die EU-vlag sal op die Britse persele daar gestryk word. EU-amptenare beplan ’n “au revoir”-partytjie vir die 73 Britte by die EU.

Die Britse vlag wapper nog Woensdag voor die Europese parlement in Brussel, België. Dit sal Vrydag om middernag gestryk word.Foto: Reuters

Michel Barnier, hoofonderhandelaar vir die EU tydens Brexit, het die verteenwoordigers van die oorblywende 27 lande agter toe deure ingelig dat daar ’n losse verhouding met Brittanje sal wees, basies soos die EU met die Oekraïne het, het diplomatieke bronne gesê.

Barnier het visserye en handel as die twee grootste probleemgebiede geïdentifiseer as daar geen ooreenkoms is nie.

Op sy laaste dag as werkende lid van die Europese parlement, het Nigel Farage van die Brexit-party gesê “daar is nou nie meer ’n omdraaipad nie”.

“Brittanje het nie hier gepas nie, dis beter dat ons uit is,” het hy gesê. Volgens hom is euro-skeptisisme ’n gevestigde denkrigting in Brittanje.

Barrow sal die Britse ambassadeur by die EU word en die Britte se permanente verteenwoordiging sal die buitelandse missie word.

Dit word reeds “UKmissEU” genoem.Reuters

Meer oor:  Europese Unie (Eu)  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.