Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Unieke vriendskap ’n simbool van hoop, geluk en vrede’
Simon Gronowski (89), ’n regsgeleerde, jazz-pianis en oorlewende van die Joodse Volksmoord, het ’n hegte vriendskap gevorm met Koenraad Tinel (86), kunstenaar en seun van ’n Nazi-simpatiseerder.Foto: Reuters

Die onwaarskynlike vriendskap tussen ’n seun van ’n Nazi-simpatiseerder en ’n oorlewende van die Joodse volksmoord maak opslae.

Koenraad Tinel, wie se pa ’n Nazi-simpatiseerder was, en Simon Gronowski, wat die Joodse volksmoord oorleef het, maar wie se ma en suster in Auschwitz dood is, het ’n hegte vriendskapsband gesmee, sewe dekades nadat haat en oorlog hul families verdeel het.

Die twee mans, albei in hul 80’s se vriendskap het in België ’n simbool van versoening geword.

“Ek en Koen was twee kinders wie se lewe deur ’n oorlog ontwrig is wat ons nie verstaan het nie,” sê Gronowski, ’n regsgeleerde en jazz-pianis.

“Ons was elkeen aan ons kant van die grensdraad, ek aan die kant van die slagoffers en hy aan die kant van die aggressors.”

Gronowski (89) en Tinel (86), het ontmoet nadat albei memoirs oor hul oorlogservarings gepubliseer het.

Die Belgiese Unie van progressiewe Jode het in 2012 gereël dat hulle mekaar ontmoet.

Hulle het aan my gevra of ek bereid sal wees om die seun van ’n Nazi te ontmoet, en vreemd genoeg, ek het ingestem, sê Gronowski.

“Ons het mekaar stadig maar seker beter leer ken.”

Koenraad Tinel (86) en Simon Gronowski (89) was tydens die Tweede Wêreldoorlog “vyande”. Die seer van die verlede het nou plek gemaak vir ’n hegte vriendskap.Foto: Reuters

Die tweeling-universiteite, die Vlaamse universiteit VUB en die Franse ULB, het aan albei eredoktorsgrade toegeken om erkenning aan die band tussen hulle te gee.

“Hul unieke vriendskap is ’n kragtige simbool van hoop, geluk en vrede,” sê die universiteite in ’n gesamentlike mediaverklaring.

Gronowski, ’n boorling van Brussel, was 11 toe hy, sy ma en ander Belgiese Jode in ’n treinwa gedwing is.

“Ek kon wonderbaarlik afspring en ontsnap,” sê hy.

Tinel het in dieselfde tyd in Gent grootgeword. Sy broers was Nazi-soldate en sy pa, ’n kunstenaar, het borsbeelde van Hitler en sy SS-offisiere gemaak.

“Ek kan nie ’n rassis wees nie, ek kan nie ’n Vlaamse nasionalis of ’n Belgiese nasionalis wees nie, ek is ’n man van die wêreld,” sê hy.

Tinel, ook ’n beeldhouer, hou tot 1 November ’n uitstalling in Brussel.

Koenraad Tinel en Simon Gronowski lag oor ’n grappie ten tyde van ’n fotosessie in Brussel. Sewe dekades vroeër is hul lewe heeltemal ontwrig deur die Tweede Wêreldoorlog. Tinel se pa was ’n vurige Vlaamse nasionalis en Nazi-simpatiseerder, en Gronowski se ma en suster het in die Auschwitz-konsentrasiekamp gesterf. Foto: Reuters

Sy werk, wat deur die militêre parades van sy jeug geïnspireer word, handel oor hoe vrees mense dryf tot wandade.

“Koenraad is meer as ’n vriend, hy is my broer,” het Gronowski ten tyde van ’n fotosessie in Brussel gesê.

“Ons bring nie vir jou ’n boodskap van hartseer nie, maar ’n boodskap van hoop en geluk. Die lewe is mooi, maar dit is ’n daaglikse stryd.” – Reuters.

Simon Gronowksi en Koenraad Tinel maak gereed om mekaar soos ou vriende te omhels. Foto: Reuters
Die vriendskap tussen Koenraad Tinel (86), ’n Belgiese kunstenaar en Simon Gronowski (89) ’n regsgeleerde en jazz-pianis, dien as inspirasie vir ander.Foto: Reuters

Meer oor:  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.