Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Venesië verwerp klimaatplan – toe tref vloed

Die vloedgeteisterde Venesië, die waterstad van Italië, is Sondag deur ’n derde reuse-getystuwing in minder as ’n week oorstroom.

Die historiese St. Markus-plein is gesluit vir toeriste en sandsakke is teen die deure van die basilika gestapel om te keer dat die soutwater weer die grafkelder in die basilika oorstroom, berig The Sun.

Die vloed was Sondag 1,5 m hoog, die ergste sedert die stad statistieke van die hoogste getye gehou het sedert 1872.

Die ramp het die stad getref ’n week nadat die stadsraad ’n plan oor die klimaatkrisis verwerp het.

Sedert verlede Maandag het die gety ’n paar keer bo 1,4 m opgestoot en Dinsdag selfs tot 1,87 m. Getye wat van 8 cm tot 90 cm opstoot, word gesien as hanteerbaar.

Dit is die sesde keer nóg dat die basilika oorstroom het.

Winkels in die toeristegebied rondom die St. Markus-plein het gesluit en hul produkte na veiligheid gebring. Sommige toeriste het in die water rondgeloop en selfies geneem of ’n Venesiese “spritz” gedrink, ’n kleurvolle aptytdrankie met bitter Italiaanse bier, en Prosecco, berig Time.

Luca D’Acunto en sy meisie, Giovanna Maglietta, van Napels, sê hulle het hul vakansieplanne gemaak en betaal voordat die oorstromings begin het.

“Pleks van ’n romantiese reis het ons nou ’n avontuurlike een,” het D’Acunto geskerts.

Die inwoners van die eiland Pellestrina – ’n dun stuk land wat ’n spergebied tussen die Venesiese strandmeer en die Adriatiese see is, sê hulle leef in ’n nagmerrie.

Vincenzo Vianello (90) sê hy vrees ’n herhaling van die vloed van 1966 toe die hele eiland oorspoel is.

Mario Scarpa, ’n buurman, sê ’n groot golf het skielik in die middel van die nag sy huis getref en die krag was af.

Hy het sy voet gebreek in sy poging om die kombuis se toebehore te red.

Die burgemeester van Venesië skat die skade op meer as een miljard euro. Die stad het ’n week vantevore ’n klimaatplan verwerp, berig The Guardian.

Waarskuwings is ook uitgereik aan Florence en Pisa.

’n Noodtoestand is reeds in Venesië afgekondig.

In 1966 is duisende onvervangbare kunswerke vernietig en sowat 100 mense dood.

Venesië is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. ’n Projek om die stad teen vloede te beskerm en wat reeds miljarde gekos het, vorder nie verder nie weens hoër koste en oponthoude.

Pompe is Sondag ingespan om water uit hierdie restaurant in Venesië te pomp. Foto: Getty Images
St. Markus-plein en die ingang van die St. Markus-basilika op die oorstroomde plein Sondag toe ’n derde getygolf die gebied getref het. Foto: Getty Images

Meer oor:  Italië  |  Oorstromings  |  Vloede  |  Venesië  |  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.