Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Verbreek die kringloop van haat,’ sê Ardern op gedenkdag

“Ek wil nie ’n hart soos ’n vulkaan hê nie. ’n Vulkaan het toorn en woede, dit het nie vrede nie. Ek wil ’n hart hê wat vol liefde en omgee en genade is.”

So het Farid Ahmed, ’n oorlewende van die moskee-aanvalle in Christchurch, Nieu-Seeland, Vrydag op ’n nasionale gedenkdag vir die slagoffers gesê, berig CNN.

Ahmed se vrou is doodgeskiet.

“Waarskynlik het hy (die aanvaller) in sy lewe deur lyding gegaan en kon hy dit nie konstruktief verwerk nie. Ek ondersteun nie die verkeerde ding wat hy gedoen het nie, maar ek kan dit nie ontken dat hy as mens my broer is nie.”

Oorlewendes, godsdiens- en burgerlike leiers het Vrydag een vir een kans gekry om te praat nadat hulle in Nieu-Seeland se drie amptelike tale – Engels, Maori en gebaretaal – voorgestel is.

Die sanger Yusuf Islam, voorheen bekend as Cat Stevens en deesdae net as Yusuf, het sy treffers “Peace Train” en “Don’t Be Shy” gesing.

Jacinda Ardern scarf
Jacinda Ardern

Jacinda Ardern, premier van Nieu-Seeland, is staande verwelkom op die diens wat Ko Tatou, Tatou, We Are One genoem is en naby die Al Noor-moskee in Hagley Park gehou is.

“Rassisme bestaan, maar dit is nie hier welkom nie,” het Ardern volgens The Guardian gesê.

“Die wêreld is vasgevang in ’n haatlike kringloop van ekstremisme wat ekstremisme voortbring, en dit moet beëindig word. Ons kan nie hierdie kwessies alleen konfronteer nie, die antwoord lê in ons menslikheid,” het Ardern gesê.

“Ons elkeen het die krag – in ons woorde, in ons optrede, in ons daaglikse dade van welwillendheid. Laat dit die nalatenskap van 15 Maart wees.”

Sy het ’n maori-mantel aangehad en het gepraat met ’n gebaretaal-tolk langs haar.

“Ons is nie immuun teen die virusse van haat of vrees nie, maar ons kan die nasie wees wat die kuur daarvoor ontdek. So elkeen van ons wat hiervandaan gaan, het werk om te doen,” het Ardern volgens Japan Today aan die sowat 20 000 mense gesê.

Sjeik Muhamad Shaakir Ismail het ’n beroep op alle Nieu-Seelanders van alle kulture gedoen om proaktief te wees om mekaar te probeer verstaan.

“Ons moskees, sinagoges, kerke en religieuse sentrums moet befonds word sodat mense daar kan ingaan en hoor oor die geloof en die mense leer ken.”

Die All Black-rugbyspeler Sonny Bill Williams het gesê hy is hartseer oor hoe min mense geweet het van Islam voor die tragedie. Hy voel aangespoor deur die deernis en empatie wat nou gewys word, berig Radio New Zeeland.

“Laat ons mekaar liefhê soos in die afgelope weke. Laat ons die lig wees wat in die stormwater vir die res van die wêreld skyn om te wys hoe om dit te doen,” het Williams gesê.





Meer oor:  Jacinda Ardern  |  Christchurch-Aanvalle  |  Moskee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.