Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Verlaat Belarus lewend of in stukke, hoor opposisieleier
Maria Kolesnikova
Maria Kolesnikova Foto: Reuters

Maria Kolesnikowa, die opposisieleier in Belarus, sê veiligheidsbeamptes het ’n sak oor haar kop gesit en gedreig om haar dood te maak toe hulle haar vroeër vandeesweek met geweld na die Oekraïne wou deporteer.

Dié inligting het Donderdag aan die lig gekom toe haar prokureur ’n klag oor die voorval ingedien het.

Kolesnikowa, een van die mees prominente leiers van die massabetogings teen die herverkiesing van pres. Aleksander Loekasjenko, het die poging om haar te verdryf verhoed deur haar paspoort op te skeur.

Sy het in ’n verklaring gesê dat sy regtig vir haar lewe gevrees het tydens die mislukte poging om haar te deporteer. “Daar is in die besonder aan my gesê as ek nie die Republiek van Belarus vrywillig verlaat nie, sal ek in elk geval lewend of in stukke verwyder word. Daar was ook dreigemente om my vir 25 jaar lank tronk toe te stuur,” het Kolesnikowa gesê.

Daar is aan haar gesê dat sy “probleme” sou kry as sy onder toesig of in die tronk aangehou word.

Lioedmila Kazak, prokureur van Kolesnikowa, het ’n kriminele klag teen die owerhede in Belarus, waaronder die Belarussiese KGB, ingedien weens ontvoering, onwettige aanhouding en dreigemente om moord te pleeg, het die nuusportaal Tut.By berig.

Die klag is by die staat se ondersoekkomitee ingedien. Op versoek om kommentaar het ’n verteenwoordiger van die komitee gesê: “Op die oomblik het ek geen inligting hieroor nie.”

Volgens Kazak word Kolesnikowa in die hoofstad Minsk aangehou, waar sy ondervra word. Kazak het haar kliënt Woensdag by ’n aanhoudingsentrum gesien en gesê sy het kneusplekke aan haar liggaam.

Loekasjenko het aanklaers Donderdag beveel om meer beslissend teen die opposisie op te tree.

“Daar word gepoog om die mag oor te neem,” het hy gesê. “Julle moet strenger wees teen sulke optrede.”

In die maand sedert die betwiste verkiesing in Belarus het byna al die leiers van die opposisiegroepe landuit gevlug of is hulle in hegtenis geneem. Die regte-groep Vesna het ’n lys van 58 politieke gevangenes gepubliseer, met besonderhede oor hul arrestasies.

Loekasjenko, wat sedert 1994 aan die bewind is, geniet die steun van Wladimir Poetin, die Russiese leier, sy belangrikste bondgenoot. Westerse lande was tot dusver versigtig om streng op te tree uit vrees vir ’n Russiese ingryping. Die Europese Unie is besig om ’n lys van amptenare in Belarus saam te stel waarteen sanksies ingestel sal word. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.