Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Vermeende slagoffer vra prins Andrew om met VSA saam te werk

’n Vrou wat beweer dat sy seksueel mishandel is deur die miljoenêr-seksoortreder Jeffrey Epstein, het ’n beroep op prins Andrew gedoen om met Amerikaanse geregsdienaars te praat.

Hoewel Jane Doe 15, soos sy Maandag in Los Angeles deur die prokureur Gloria Allred aan die media bekend gestel is, geen bewerings teen koningin Elizabeth se naasoudste seun gemaak het nie, het Jane Doe 15 gesê die hertog en “ander wat na aan Epstein was, moet ’n verklaring onder eed aflê oor die inligting rakende Epstein waaroor hulle beskik”.

Jane Doe 15 (31) beskuldig Jeffrey Epstein daarvan dat hy haar seksueel mishandel het toe sy ’n kind was. Foto: Reuters

Allred verteenwoordig ’n paar vroue wat beweer Epstein het hulle seksueel gemolesteer. Jane Doe 15 stel saam met ander slagoffers ’n eis in teen Epstein se boedel. Hoewel sy langs Allred op die nuuskonferensie gesit het, behou Jane Doe haar wetlike reg om nie haar identiteit bekend te maak nie.

Allred het op die nuuskonferensie gesê sy moedig Andrew aan om vrywillig en so gou moontlik met Amerikaanse geregsdienaars te praat en ’n eedsverklaring af te lê.

“Gegewe dat hy op die oog af ontken waarvan ander hom beskuldig, dink ek hy moet so gou moontlik reëlings tref om met geregsdienaars te praat.”

Andrew se getuienis sal as voorbeeld dien en die vroue help wat deur Epstein misbruik is, het Allred gesê.

Jane Doe 15 het haar voorbereide verklaring gelees terwyl die kameras geflits het. Sy sê Epstein het haar as 15-jarige teen ’n muur van geraamde foto’s van bekende mense verkrag. Ná die tyd het hy ’n tjek ter waarde van $5 000 uitgeskryf aan die kollege waar sy graag wou studeer, sê Jane Doe.

Jane Doe 15, soos sy Maandag in Los Angeles deur die prokureur Gloria Allred aan die media bekend gestel is. Foto: Reuters

Toe sy saam met Epstein in sy private straler – ook genoem die Lolita Express – gereis het, het Epstein aan haar gesê sy sit op oudpres. Bill Clinton se gunsteling-sitplek.

Sy het ’n uitnodiging na Epstein se eilandparadys op die Virginiese Eilande van die hand gewys, al is daar gesê prins Andrew sal glo op die eiland wees.

Virginia Roberts Giuffre, wat sê sy is op 16-jarige ouderdom seksueel deur Epstein gemolesteer en dat hy haar as ’n seksslaaf aan sy vriende geleen het, beweer Andrew en sy het op drie geleenthede seks gehad. Een van dié geleenthede was glo op Epstein se eilandparadys.

Andrew het Saterdagaand in die BBC se Newsnight-program ontken dat hy seks met Giuffre gehad het. Hy kan ook nie onthou of hy Giuffre al ontmoet het nie, het Andrew gesê. Reuters

* Die maatskappy KPMG het as borg onttrek van die prins se Pitch@Palace-mentorskapskema vir entrepreneurs. Die borgskap het einde Oktober verval en sal in die lig van die bohaai om Andrew se betrokkenheid by Epstein nie hernieu word nie. Nog ’n borg, AstraZeneca, se borgskap verstryk einde vanjaar en sal dan in heroënskou geneem word, het Sky News en BBC berig.

Prins Andrew in Julie vanjaar tydens ’n Pitch@Palace-geleentheid wat in Buckinghampaleis gehou is. Foto: Getty Images

Meer oor:  Gloria Allred  |  Mishandeling  |  Prins Andrew  |  Andrew Epstein  |  Seksskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.