Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Verregse leuens rig massa-aanslag op EU-verkiesing

Die Avaaz-groep het ’n web van verregse Facebook-rekeninge ontdek wat in aanloop tot die Europese parlementsverkiesing liegstories en haatspraak aan miljoene mense in Europa versprei.

Dié aanlyn aktiviste-netwerk het meer as 500 verdagte groepe en Facebook-blaaie wat in Frankryk, Duitsland, Italië, Brittanje, Pole en Spanje besoek kan word, aangemeld by Facebook, berig The Guardian.

Milo Yiannopoulos (links), ’n verregse aktivis, en Alex Jones, ’n samesweringsteoretikus, is reeds van Facebook verban.Foto: Getty Images

Die meeste daarvan versprei onwaarhede of gebruik vals blaaie en profiele om die inhoud van partye en webwerwe kunsmatig te verhoog. Dit is ’n oortreding van Facebook se reëls.

“Met net enkele dae oor voor die Europese verkiesings verdrink Europa in vals inligting. Die grootte en gevorderdheid van hierdie netwerke maak van hulle wapens van massavernietiging vir demokrasie en op die oomblik is hul visier op Europa gerig,” sê Christoph Schott, veldtogdirekteur van Avaaz.

Facebook het reeds in aanloop tot die verkiesings, wat Donderdag begin, rekeninge met sowat 6 miljoen volgelinge gesluit. Die webtuistes is saam sowat 500 miljoen keer besoek – dit is meer as die aantal kiesers wat kan stem.

Facebook ondersoek nog honderde ander rekeninge wat tesame sowat 26 miljoen volgelinge het.

Die Facebook-rekeninge wat Avaaz ontdek het, word meer as die verregse partye se amptelike webtuistes besoek.

In Italië word webtuistes geregistreer vir algemene dinge soos skoonheid, sokker en gesondheid. Sodra mense dit volg, word dit in ’n politieke forum omskep.

’n Voorbeeld van die polities gelaaide waninligting wat deur hierdie webtuistes versprei word, is ’n fopvideo wat wys hoe “migrante” in Italië ’n polisiemotor verwoes, berig TC (techcrunch.com).

Die video is deur 10 miljoen mense gekyk. In werklikheid is dit ’n toneel uit ’n rolprent wat, volgens Avaaz, al lankal as vals bewys is.

Daar is ook “berigte” oor migrante-taxibestuurders wat Europese vroue in Pole verkrag, tesame met ’n vervalste foto, asook fopnuus oor Katalaanse separatiste wat ’n sentrum vir kinderkankerlyers in Spanje gesluit het.

Avaaz skat dat die inhoud van al die verdagte webtuistes sowat 533 miljoen keer gekyk is.

In Brittanje is ’n foto versprei van iemand wie se kop afgekap word. Die byskrif lui: “’n Miljard Moslems wil Islamitiese wetgewing hê.”

Op sommige webtuistes doen die vervalsers hulself sommer as politici voor, berig Wired. Dit is nie bekend wie agter hierdie verregse veldtog sit nie.

Al probeer Facebook hoe hard om Europa se beskerm, slaag hy nog nie daarin om die verspreiding van al die opruiende en manipulerende inhoud te voorkom nie, berig Wired.

Facebook is nie die enigste platform wat gebruik word nie, maar as gevolg van sy grootte maak dit van hom ’n magtige wapen.

Meer oor:  Haatspraak  |  Wêreld  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.