Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VIDEO: Ebola eis al 1 400, versprei na Uganda

Die uitbreking van Ebola in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) wat onlangs na die buurland Uganda versprei het, is nié ’n internasionale krisis nie.

’n Gesondheidswerker in beskermende klere stap uit die aantrekkamer by die behandelingsentrum teen Ebola in Beni in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Foto: Reuters

Dit is volgens ’n mediaverklaring op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se webwerf. Volgens die WGO is sowat 2 000 mense besmet sedert die huidige uitbreking van Ebola in Augustus 2018 in die DRK.

Omtrent 1 400 van hulle is dood – dis sowat 70% van die geïnfekteerdes. Dis sover bekend die tweede grootste uitbreking van Ebola in die menslike geskiedenis.

Hernude kommer oor die verspreiding van die siekte het nou posgevat nadat dié gevreesde virus nou na die aangrensende Uganda versprei het. ’n Vyfjarige seun en sy ouma is verlede week daar dood, nadat hulle oor die DRK se grens na Uganda gegaan het. Hulle was reeds besmet toe hulle in Uganda aangekom het.

Die Ugandese owerheid reken ten minste ses mense in dié land is reeds besmet en dat sowat 50 mense daar in aanraking met die virus was. Die Ugandese regering het vinnig gereageer op die nuwe gevaar en 4 700 gesondheidswerkers in 165 gesondheidsentrums teen Ebola laat inent.

Die WGO sê die DRK bly steeds ’n hoë risiko vir die verspreiding van Ebola, maar die risiko in Uganda is matig. Dis onwaarskynlik dat die siekte na streke wat verder verwyder is, sal versprei en daarom word dit nog nie as ’n internasionale noodsituasie beskou nie.

Verskeie faktore kortwiek egter die onderskeie regerings en gesondheidswerkers se pogings om die siekte in bedwang te bring. Dit sluit in die heersende burgeroorlog in die DRK, waar gesondheidswerkers in die spervuur beland. Wantroue jeens buitelandse mediese hulpwerkers is ook ’n struikelblok, terwyl sommige politici wat stories versprei dat die siekte nie werklik bestaan nie of deur buitelanders na Afrika gebring word, ook nie help vir positiewe bewusmaking nie.

Moderne tegnologie help enersyds met bewusmaking, maar dit skep andersyds ook ’n platform vir die verspreiding van dié soort vals inligting wat mense verwar, berig Reuters.

Mense wat tradisionele genesers besoek en gebrekkige infeksiebeheermaatreëls striem die voorkoming van die siekte verder. Volgens die WGO het goeie kommunikasie en bewusmakingsveldtogte tussen Uganda en die DRK wel al positiewe resultate opgelewer en het Ebola-gevalle die afgelope vyf weke afgeneem. Daar is egter steeds gebiede waar baie nuwe gevalle voorkom.

Wantroue jeens buitelandse mediese hulpwerkers is ook ’n struikelblok.

Gebrekkige fondse en menslike hulpbronne is nóg faktore wat daartoe kan lei dat dit nog tot twee jaar kan duur voordat die huidige uitbreking van Ebola gestuit word.

Swak grensbeheer tussen Uganda en die DRK, met handelaars wat daagliks ongehinderd tussen dié twee lande se grense beweeg, skep ook risiko’s, berig BBC.

Die virus word deur liggaamsvloeistowwe soos bloed, speeksel en stoelgang oorgedra. Lyers bring onder meer op en het diarree, wat beteken diegene wat hulle versorg, is die kwesbaarste. Die virus kan selfs ná afsterwe oorgedra word, wat beteken ook begrafnisgangers is blootgestel. Talle voorsorgmaatreëls geld daarom nou in die DRK en Uganda: markte naby die grens is toegemaak, godsdienstige byeenkomste is gekanselleer en mense vermy fisieke kontak.

Meer oor:  Drk  |  Uganda  |  Siektes  |  Ebola
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.