Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Virus: SA burgers in China aan hul lot oorgelaat

Suid-Afrikaners in China wat weens die koronavirus die land wil verlaat, sal nie op hul eie regering kan staatmaak om hulle huis toe te bring nie.

Joss Potgieter, wat woon in Wuhan, die middelpunt van die uitbreking van die virus, het Sondag op die Facebook-blad South Africans Living in China gevra dat haar landgenote druk op die Suid-Afrikaanse regering uitoefen om sy burgers huis toe te bring.

Die Chinese owerhede het alle openbare vervoer daar gestaak en die stad feitlik in kwarantyn geplaas.

56 mense is in China dood en byna 2 000 is reeds met die virus besmet nadat die eerste diagnose minder as ’n maand gelede op 31 Desember gedoen is.

"Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) is nie gewillig om Suid-Afrikaners uit Wuhan te help kry nie. Versprei die woord! Waar is die hulp van ons regering wanneer jy dit nodig het?” het Potgieter in ’n aparte inskrywing op haar Facebook-blad gevra.

The New York Times berig die owerhede van verskeie lande, onder meer Rusland, Frankryk en Amerika, het reeds aangedui hulle probeer om hul burgers uit Wuhan te kry.

’n Mans sit Sondag met sy aankopies in ’n verlate treinwa in Beijing, China. Foto: AP

Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, sê sy departement se hande is afgekap. Volgens hom is daar net ’n handjievol Suid-Afrikaners in Wuhan.

“Die stad is basies is kwarantyn geplaas om die verspreiding van die siekte te keer. Die Chinese owerhede voel mense daar is óf besmet óf loop die risiko om besmet te word. Ons, die Amerikaners, of wie ook al sal nie hul burgers daar kan uitkry nie,” sê Monyela.

Dirco beplan ook nie om Suid-Afrikaners van ander plekke in China terug te bring nie.

“Ons kan nie net ’n vliegtuig stuur nie. Wat as die virus dan na Suid-Afrika versprei? Dan gaan mense Dirco verkwalik,” sê Monyela.

Dié winkelsentrum in Sjanghai, China, was Sondag feitlik verlate. Enkele inkopiegangers met beskermende maskers het dit wel hier gewaag. Foto: AP

Hy het Suid-Afrikaners in China aangeraai om die plaaslike owerhede se reëls te volg. Die departement se konsulaat in Beijing is egter bereid om hulp aan Suid-Afrikaners te bied wat in nood is, sê hy.

The New York Times berig die Chinese owerhede het intussen alle handel in wildlewe verbied totdat die virus uitgeroei is. Daar word geglo die infeksie met die virus het uitgebreek by ’n mark in Wuhan wat vleis van allerlei diere verkoop.

Reuters berig gevalle is ook aangemeld in Thailand (5), Australië (4), Singapoer (4), die VSA (3), Frankryk (3), Japan (3), Taiwan (3), Maleisië (3), Viëtnam (2), Suid-Korea (2), Kanada (1) en Nepal (1).

Netwerk24 het vroeër berig die Chinese regering het reeds ’n noodtoestand afgekondig en beplan om sy kwarantynmaatreëls verder te verskerp.

Die owerhede daar sê sy kennis oor die virus is beperk en dit is nie duidelik presies hoe groot die gevaar is wat dit inhou nie.

Hoewel die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die uitbreking in China as ’n krisis beskou, sê hy dit is nog nie ’n wêreldwye krisis nie.


Meer oor:  Clayson Monyela  |  China  |  Koronavirus  |  Sa Burgers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.