Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Virus: SA burgers in China ‘versaak’

Suid-Afrikaners in China wat weens die koronavirus die land wil verlaat, sal nie op hul eie regering kan staatmaak om hulle huis toe te bring nie.

Joss Potgieter, wat in Wuhan bly, die middelpunt van die uitbreking van die virus, het gister op die Facebook-blad South Africans Living in China gevra haar landgenote moet druk op die Suid-Afrikaanse regering uitoefen om sy burgers huis toe te bring.

Die Chinese owerhede het alle openbare vervoer daar gestaak en die stad feitlik in kwarantyn geplaas. Tot dusver is 56 mense in China dood en byna 2 051 reeds met die virus besmet nadat die eerste diagnose minder as ’n maand gelede op 31 Desember gedoen is.

“Dirco (die departement van internasionale betrekkinge en samewerking) is nie gewillig om Suid-Afrikaners uit Wuhan te help kry nie. Waar is die hulp van ons regering wanneer jy dit nodig het?” het Potgieter op haar Facebook-blad gevra.

’n Meisie met ’n masker loop Sondag in Ditanpark in Beijing onderdeur versierings ter viering van die Chinese Nuwejaar. Daar is nou reeds 1 975 mense op die Chinese vasteland wat met die virus besmet is. Foto: Getty Images
Getty Images

The New York Times berig die owerhede van verskeie lande, onder meer Rusland, Frankryk en Amerika, het aangedui hulle probeer om hul burgers uit Wuhan te kry.

Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, sê sy departement se hande is afgekap. Volgens hom is daar net ’n handjievol Suid-Afrikaners in Wuhan.

“Die stad is basies in kwarantyn geplaas om die verspreiding van die siekte te keer. Die Chinese owerhede voel mense daar is óf besmet óf loop die risiko om besmet te word. Ons, die Amerikaners, of wie ook al, sal nie hul burgers daar kan uitkry nie.”

Dirco beplan ook nie om Suid-Afrikaners van ander plekke in China terug te bring nie.

“Ons kan nie net ’n vliegtuig stuur nie. Wat as die virus dan na Suid-Afrika versprei? Dan gaan mense Dirco verkwalik,” sê Monyela.

Hy het Suid-Afrikaners in China aangeraai om die plaaslike owerhede se reëls te volg. Die departement se konsulaat in Beijing is egter bereid om hulp aan Suid-Afrikaners in nood te bied, sê hy.

Marianke Saayman wat nou in Wuhan skoolhou. Hulle bly maar tuis, sê sy. Foto: Verskaf
Savannah-Lee de Lange (24) van Kaapstad, ’n onderwyseres in die stad Wuhan, het Sondag dié selfie geneem waar sy op die balkon van haar woonstel staan. Foto: Verskaf

Savannah-Lee de Lange (24) van Kaapstad, ’n onderwyseres in Wuhan, het beskryf hoe vreesaanjaend dit is om in die stad te bly waar die eerste geval van die virus aangemeld is.

De Lange sê behalwe die kwarantyn en dat daar niemand in die strate is nie, is mense te bang om by hul voordeur uit te gaan.

“Almal is vrek bang. Niemand kan in nie en niemand kan uit nie.”

Geen aanduiding bestaan nog van wanneer dit veilig sal wees om uit te gaan nie.

De Lange sê sy sou Donderdag om 21:00 (Chinese tyd) na Kaapstad vlieg om by haar familie te kuier. Die hele Wuhan kry boodskappe van die regering en De Lange het Donderdag om 08:00 ’n boodskap gekry dat alles teen 10:00 gesluit sal wees.

Sedertdien is sy en haar huismaat nog nie by hul deur uit nie. Hulle mag nie gaan kos koop nie, maar sy het darem kos soos noedels en blikkieskos. Dit is nou haar tweede jaar in China waar sy vir graadeens skoolhou.

Marianke Saayman, ’n voormalige joernalis wat daar skoolhou, sê die meeste mense het hul reisplanne gekanselleer.

“Ons bly maar by die huis.”

Hoewel Saayman en haar kêrel nog nie te bekommerd is oor die uitbreking nie, bly hulle versigtig. Sy dink die media ruk die situasie effens uit verband.

“Daar is nog net sowat 40 mense dood. In Wuhan, waar die virus ontstaan het, woon miljoene mense. Die meeste wat weens die virus doodgaan, is ouer mense of hulle het die een of ander siektetoestand gehad,” sê sy.

The New York Times berig die Chinese owerhede het intussen alle handel in wildlewe verbied totdat die virus uitgeroei is. Daar word geglo die besmetting met die virus het uitgebreek by ’n mark in Wuhan wat vleis van allerlei diere verkoop.

Reuters berig gevalle is ook aangemeld in Thailand (5), Australië (4), Singapoer (4), die VSA (3), Frankryk (3), Japan (3), Taiwan (3), Maleisië (3), Viëtnam (2), Suid-Korea (2), Kanada (1) en Nepal (1).

Netwerk24 het vroeër berig die Chinese regering het reeds ’n noodtoestand afgekondig en beplan om sy kwarantynmaat­reëls verder te verskerp.

Die owerhede daar sê sy kennis oor die virus is beperk en dit is nie duidelik presies hoe groot die gevaar is wat dit inhou nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het laat Sondag gesê hy is op pad na Beijing om met Chinese amptenare en gesondheidskundiges oor die uitbreking van die koronavirus te beraadslaag. 

Meer oor:  Koronavirus  |  Sa Burgers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.