Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Visier skuif na Epstein se trawante

Die dood van die pedofiel Jeffrey Epstein (66) in sy tronksel in New York vyf weke nadat hy in hegtenis geneem is, beteken nie noodwendig dat die hofsaak nie voortgaan nie.

Medepligtiges sal steeds aan die pen kan ry, sê aanklaers.

Die miljardêr-finansier is beskuldig van mensehandel en dat hy minderjarige meisies gemolesteer het.

Vrae het ook ontstaan oor of Epstein wel homself om die lewe gebring het.

Vrydag, die dag voor sy dood, is die hofdokumente oor ’n omstrede pleitooreenkoms waarmee hy destyds met ’n baie ligte straf weggekom het, beskikbaar gestel.

Volgens mediaberigte het Epstein homself opgehang in sy sel in die Metropolitaanse Korrektiewe Sentrum in Manhattan, maar die tronkowerhede wou nie hierop kommentaar lewer nie.

Hulle sê personeel van die tronk het hom dadelik probeer bybring en die nooddienste is Saterdagoggend omstreeks 06:30 (VSA-tyd) ontbied.

Epstein is by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Hy is gemonitor nadat hy op 23 Julie bewusteloos in sy sel aangetref is met merke aan sy nek.

Dit was ’n week nadat sy borgtogaansoek van die hand gewys is.

Hy is egter nie Saterdag gemonitor nie, het ’n bron wat bekend is met die saak, gesê.

Dit is nie bekend waarom hy nie dopgehou is nie.

Epstein het volgens MailOnline ook weke gelede aan wagte en mede-gevangenes gesê hy glo dat iemand hom probeer vermoor het.

Aanklaers gee toe dat Epstein se dood “nog ’n struikelblok” is vir slagoffers in hul soeke na geregtigheid, maar het aangedui dat ander mense moontlik van medepligtigheid aangekla kan word.

“Ons ondersoek na . . . wat ’n samesweringsklag insluit, gaan voort,” het Geoffrey Berman, die staatsaanklaer, gesê.

Jeffrey Epstein
Jeffrey Epstein

Josh Schiller, die prokureur wat nege vroue verteenwoordig wat beweer dat hulle deur Epstein gemolesteer is toe van hulle maar net 14 jaar oud was, sê dat hulle met hul hofsake sal voortgaan.

“Dit is moontlik dat ander mense wat saamgesweer het om Epstein te beskerm, bewysstukke te vernietig, getuies om te koop of andersins sy mensehandel en predatoriese pedofilie gefasiliteer het, aangekla kan word.

“Hulle mag dalk ook afsonderlik gedagvaar word soos wat hulle uitgeken word,” het Schiller gesê.

Epstein was nie getroud nie en het nie kinders gehad nie.

Hy word oorleef deur ’n broer en die broer se twee kinders.

Dit is nie bekend aan wie hy sy rykdom nagelaat het nie.

Lisa Bloom, die regsverteenwoordigers van drie van sy ander slagoffers, het gevra dat sy boedel bevries word vir moontlike siviele eise.

Jennifer Araoz, wat verlede maand aangevoer het dat Epstein haar verkrag het toe sy ’n 15-jarige skoolmeisie in New York was, het gesê sy is kwaad omdat hy nou nie die oorlewendes van sy wandade in die hof in die oë gaan moet kyk nie.

“Ons moet vir die res van ons lewe met die letsels van sy optrede saamleef, terwyl hy nooit die gevolge van sy misdade of die pyn en trauma wat hy baie mense aangedoen het, hoef te dra nie,” het Araoz in ’n verklaring gesê.

“Epstein is weg, maar geregtigheid moet steeds geskied.”

Intussen doen samesweringsteorieë die ronde oor Epstein se dood.

Selfs pres. Donald Trump van die VSA, ’n eertydse vriend, het meegedoen.

Trump het ’n sameswerings­teorie dat die familie van oudpres. Bill Clinton en sy vrou, Hillary, vir Epstein se dood verantwoordelik was, op Twitter aangestuur.

Die teorie is in ’n video van die konserwatiewe komediant Terrence Williams en omdat Trump dit aangestuur het, is reeds 3 miljoen keer daarna gekyk, berig CNN.

Twee ondersoeke word nou gedoen by die tronk waar Epstein dood is – een deur die departement van justisie en die ander deur die federale speurdiens, die FBI.

William Barr, die minister van justisie, het in ’n verklaring sy skok oor Epstein se dood uitgespreek en gesê dit laat “ernstige vrae ontstaan”.

Die tronkbewaarders loop lank­al deur onder beskuldigings dat hulle omgekoop kan word om dwelms, drank en selfone vir gevangenes in te smokkel en verkragting toelaat.

Aanklaers het beweer Epstein het sy geld en mag misbruik om jare lank tientalle jong meisies te molesteer en hulle elke keer honderde dollars te betaal.

Hy het hulle meer betaal as hulle ander slagoffers na hom gebring het. – Bloomberg

Meer oor:  Jeffrey Epstein  |  Selfmoord  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.