Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Vlieënier se brief: 'Wanneer jy dit lees, is daar hoop'

’n Briefie wat ’n vlieënier in ’n vliegtuig van die Delta-lugdiens gelos het wat langer as ’n jaar in die woestyn “geberg” is, bied ’n blik op die dae toe die wêreld net mooi weens die Covid-19-pandemie tot stilstand begin kom het.

Die briefie word nou as ’n "tydkapsule" beskryf.

Kapt. Chris Dennis het op 23 Maart 2020 die Delta-vliegtuig 3009 op die Victorville-lughawe in die Kaliforniese woestyn geparkeer, berig CNN.

Delta en ander lugdienste het in daardie stadium hul vlugte ingekort te midde van wêreldwye inperkings en reisbeperkings wat van toepassing was, maar Dennis het nie geweet dit sou die begin van ’n 435 dae lange opheffing van vlugte wees nie.

Hy het gehoor daar is sprake van ’n inperking van twee weke, het Delta verlede week in ’n Facebook-inskrywing gesê, daarom hy het besluit om ’n boodskap vir die volgende vlieënier op die vliegtuig te los.

“Haai, vlieëniers – Dit is 23 Maart en ons het pas vanaf MSP (Minneapolis-St. Paul) aangekom. Ysingwekkend om so baie van ons vloot in die woestyn te sien. As jy hier is om dit te kom haal, moet daar seker lig aan die einde van die tonnel wees,” het Dennis geskryf.

“Ongelooflik hoe vinnig dit verander het. Vlieg veilig wanneer dit uit berging gebring word!”

Die vlieënier wat toe die taak gehad het om die vliegtuig “wakker te maak” en uit berging te bring, het die briefie op ’n skinkbordtafeltjie in die stuurkajuit gevind, het Delta in sy inskrywing gesê.

“Ons het almal in Maart 2020 daardie woorde, wat soveel onsekerheid en emosie vasgevang het, gevoel. Dit het die gewigtigheid van die reis onderstreep en hoe optimisties hy nou voel oor die rigting waarin ons beweeg. Vliegtuig 3009 is nou weer gereed om na die lug terug te keer.”

The Washington Post berig Dennis het verwag dat die vliegtuie net vir ’n paar weke daar sou bly, het Delta later gesê. Dinge het egter nie so vinnig na normaal teruggekeer nie. Dit het 435 dae geneem vir die volgende vlieëniers om op 1 Junie 2021 na die geparkeerde vliegtuie in die woestyn terug te keer.

Die spesifieke vliegtuig 3009 het intussen ’n ander doel gedien. Meer as 120 van sy onderdele is vir ander vliegtuie gebruik terwyl hy in Victorville geparkeer was. Delta sê dit is algemeen dat die onderdele van vliegtuie wat op lang termyn in berging is, gebruik word. CNN, The Washington PostUSA Today

Meer oor:  Vliegtuig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.