Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Vliegtuig het dalk weens oorlading in Australië geval
’n Foto van die Hercules C–130-tenkervliegtuig. Foto: Reuters

Die oorsaak van die ongeluk van die C-130 Hercules-brandbestrydingsvliegtuig Donderdag in die suidooste van Australië, waarin drie Amerikaners dood is, is nog nie vasgestel nie.

Die Amerikaanse bemanning van die noodlottige vlug was besig om ’n bosbrand naby die Wadbilliga- nasionale park te bestry.

Die vliegtuig het oor ’n diep vallei gevlieg om vlamwerende vloeistof oor die vlamme te stort, en het nie weer daar uitgekom nie, het ’n woordvoerder van die Australiese burgerlugvaartowerheid gesê.

Geoffrey Dell, ’n forensiese kenner aan die Universiteit van Sentraal-Queensland, sê die vliegtuig het glo weens ’n draai- en duikbeweging met sy swaar vrag aan boord vinnig hoogte verloor en dit is moontlik dat die ongeluk aan “aërodinamiese oorlading” toegeskryf kan word.

Ongelukstoneel

“Die vliegtuig is ontwerp om op ’n sekere vlak van gravitasiekrag te werk. Dele van die struktuur kan onder druk kom wanneer dit oorskry word,” sê hy.

’n Span ondersoekers is egter na die ongelukstoneel onderweg.

Shane Fitzsimmons, hoof van die plaaslike landelike brandweerdiens, sê die vliegtuig het aan die Kanadese brandbestrydingsmaatskappy Coulson Aviation behoort.

Coulson hou intussen sy hele vloot C-130’s op die grond totdat die oorsaak van die ongeluk vasgestel is.

Ervare brandbestryders

Die drie oorledenes was deel van sowat 200 Amerikaners wat sedert Desember in die land help om die bosbrande te bestry. Hul name is nog nie bekend gemaak nie.

Hulle was ervare brandbestryders, sê Fitzsimmons.

Die Australiese premier, Scott Morrison, het in ’n kort verklaring sy simpatie met die familie en vriende van die drie bemanningslede uitgespreek.

“Dis ’n vreeslike tragedie,” het Morrison, wat self Woensdagnag met die heengaan van sy 84-jarige pa ’n verlies gely het, gesê.

Die drie Amerikaners se dood bring die dodetal in die brande op 32, onder wie sewe brandbestryders, te staan.

Die bosbrandkrisis sal na verwagting tot April duur en van die ergste toestande word in Februarie verwag. Bronne: The Telegraph; DW; Sky News




Meer oor:  Australië  |  Vliegtuigongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.