Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VN en EU besorgd oor Biti se veiligheid in Zim

Die Verenigde Nasies (VN) en die Europese Unie (EU) het ook hul kommer oor die beweerde onwettige deportasie, inhegtenisneming en vervolging van die Zimbabwiese opposisieleier, Tendai Biti, uitgespreek.

Die Zimbabwiese koerant NewsDay het Vrydag berig dat bogenoemde organisasies ’n beroep gedoen het op die Zimbabwiese owerhede om Biti se veiligheid te waarborg. Dit kom nadat Biti se poging om politieke asiel in Zambië te kry, Woensdag misluk het

Tendai Biti. Foto: Nardus Engelbrecht

Dié voormalige Zimbabwiese minister van finansies is Donderdag op borgtog van $5 000 in ’n hof in Zimbabwe vrygelaat. Hy word onder meer daarvan aangekla dat hy openbare geweld ná die verkiesing van 30 Julie in die land aangehits het.

Streng borgtogvoorwaardes is aan hom opgelê. Dit behels onder meer dat hy hom twee keer per dag by die polisie aanmeld en dat hy geen politieke vergaderings of die media mag toespreek nie.

Die VN en EU se kommer kom nadat pres. Donald Trump van Amerika se administrasie vroeër luidens NewsDay ook gesê het dat hulle die Zimbabwiese regering aanspreeklik vir die veiligheid van Biti en ander opposisielede sal hou.

Geweld het kort ná die verkiesings in veral die hoofstad, Harare, uitgebreek nadat MDC-ondersteuners beweer het dat die uitslag van die verkiesing bekook is.

Die regering het soldate ontplooi wat ses betogers doodgeskiet het.

Emmerson Mnangagwa, Zanu-PF-leier, het 50,8% van die stemme in die presidentsverkiesing gekry, en Nelson Chamisa, MDC-alliansie-leier, 44,3%.

Zanu-PF het ’n tweederdemeerderheid in die parlement gekry.

NewsDay het Vrydag in nog ’n berig gesê dat die MDC-alliansie die uitslae van 21 kiesafdelings in die hof wil betwis. As dit suksesvol is, kan dit Zanu-PF se tweederdemeerderheid ongedaan maak.

Petisies hieroor sal Vrydag en ná Maandag se openbare vakansiedag by die relevante hof ingedien word.

Intussen het die SAUK Donderdag berig dat Suid-Afrika se adv. Dali Mpofu SC die regspan kan lei wat die Zimbabwiese verkiesingsuitslae namens Chamisa en die MDC-alliansie in die hof sal betwis.

Mpofu het aan die SAUK bevestig dat hul regspan die bekende adv. Tembeka Ngcukaitobi sal insluit.

Die Zimbabwiese The Herald het egter Vrydag berig dat pres. Cyril Ramaphosa en pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana reeds bevestig het dat hulle Mnangagwa se inhuldiging as staatspresident Sondag in die National Sports-stadion in Harare sal bywoon.

Seretsi Khama en Festus Mogae, twee voormalige presidente van Botswana, sal ook die verrigtinge bywoon.

Die koerant het verder berig dat Mnangagwa van plan is om nuwe ministers ná sy inhuldiging Sondag in sy kabinet aan te stel.

Die Zimbabwiese openbare uitsaaier, die ZBC, het Vrydag ook berig dat Zanu-PF se politburo, die party se hoogste besluitnemingsliggaam, die onlangse verkiesings as “vreedsaam, vry en regverdig” beskryf het.

Luidens die ZBC is die politburo veral ingenome met die regerende party se groter steun in stedelike gebiede.

Die politburo “betreur” egter die “ongelukkige geweld wat deur MDC-alliansie se boewe op 1 Augustus in Harare gepleeg is en wat tot die dood van ses mense en die besering van 14 ander gelei het, en waarin eiendom vernietig is”. – Saamgestel deur Llewellyn Prince

Meer oor:  Vn  |  Eu  |  Tendai Biti  |  Zimbabwe  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.