Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Vrese oor brose vrede in Colombia ná motorbom 10 eis

’n Motorbom by ’n polisie-akademie in Colombia se hoofstad, Bogotá, het Donderdag die lewe van tien mense geëis terwyl meer as 50 ander beseer is.

Die aanval het gelei tot vrese dat die land na sy gewelddadige verlede terugkeer.

Owerhede het gesê die motor het deur ’n beheerpunt by die General Santander-akademie gebars en ontplof. Dit het die vensters van nabygeleë woonstelle laat breek.

Dit was die dodelikste aanval in Bogotá sedert 2016 toe die regering ’n vredesooreenkoms met die Marxist Revolutionary Armed Forces of Colombia (FARC) gesluit het.

Pres. Iván Duque Márquez het die ontploffing bestempel as ’n “mal terroristiese optrede” teen ongewapende kadette. Hy het gesê hy het die polisie en weermag opdrag gegee om die skuldiges te vind en aan die pen te laat ry.

“Colombiane het hulle nog nooit aan terrorisme oorgegee nie; ons het dit nog altyd oorwin. Hierdie sal geen uitsondering wees nie,” het hy op ’n nuuskonferensie in die akademie in die suide van die stad gesê.

Mense brand kerse by die polisie-akademie in Colombia se hoofstad, Bogotá, waarin tien mense in ’n motorbomontploffing gesterf het en talle beseer is. Foto: REUTERS/Luisa Gonzale

Die bestuurder van die motor wat ook gesterf het, is as Jose Aldemar Rojas Rodriguez geïdentifiseer, het Nestor Humberto Martinez, Colombia se prokureur-generaal, gesê.

In die motor, ’n grys Nissan Patrol, was 80 kg se hoogs plofbare plofstof, wat in die verlede ook deur Colombiaanse guerrilla-groepe gebruik is.

Niemand het dadelik verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Die minister van verdediging het in ’n verklaring gesê nege van die tien mense wat in die ontploffing dood is, was kadette.

’n Polisiehelikopter het oor die gebied gehang, terwyl huilende familielede saamgedrom het om inligting te kry. Op foto’s op sosiale media kan die brandende motorwrak op die parkeerterrein gesien word, terwyl noodpersoneel op die toneel diens doen.

Motorbomme was die afgelope dekades algemeen gedurende die burgeroorlog wat tussen die staat en verskeie linkse rebelle-groepe in die land gewoed het. Daar was ook geweld deur die Medellin-dwelmkartel, wat deur die dwelmbaas, Pablo Escobar, gelei was. Hy het intussen gesterf.

Die ergste van die oorlog, waarin sowat 260 000 mense dood is en wat miljoen mense verplaas het, het in 2016 tot ’n einde gekom toe die regering ’n vredesooreenkoms met FARC bereik het.

Die laaste groot aanval was in Januarie 2018 toe die grootste aktiewe rebelle-groep, die National Liberation Army (ELN), ’n bom in die hawestad noord van Barranquilla laat ontplof het, en vyf polisiebeamptes dood en talle beseer is.

Die ELN, wat uit sowat 2 000 vegters bestaan en deur Amerika as ’n terroriste-organisasie beskou word, is sedert Februarie 2017 in samesprekings met die regering om die konflik te beëindig.

Die president, wat in Augustus verkies is, het die vredegesprekke met die ELN voortgesit met die oog daarop dat hulle hul vyandelikhede opgeskort en alle gyselaars vrygelaat word.

Woensdag het die ELN in ’n verklaring gesê hy het drie bemanningslede van ’n burgerlike helikopter ontvoer en verlede week “geneutraliseer”.

Miguel Ceballos, Colombia se kommissaris van vrede, het in reaksie gesê die ELN “beweeg verder weg van die moontlikheid om samesprekings te voer”.

Daar was geen aanduiding dat die ELN agter die aanval in Bogotá sit óf dat dit met die ontvoering verband hou nie.

Terwyl misdaad oor die afgelope jare afgeneem het, word Colombia as ’n toerismebestemming beskou. Daar was in 2017 meer as drie miljoen buitelandse besoekers, wat ’n toename van die een miljoen in 2016 was. – Reuters


Meer oor:  Colombia  |  Vrede  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.