Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Vroue in Afganistan vrees toekoms ná wat Biden sê

Vroue in Afganistan is bekommerd nadat Amerika aangekondig het hy gaan al sy troepe ná amper 20 jaar aan dié land onttrek.

Pres. Joe Biden het Woensdag aangekondig die onttrekking van die VSA se oorblywende 2 500 troepe sal op 1 Mei begin en teen 11 September klaar wees.

Die VSA het Afganistan binnegeval ná die terreuraanvalle in September 2001 en volgens Biden kom terreur nou op soveel plekke voor dat dit nie meer sin maak om duisende troepe teen miljarde dollars in net een land te hou nie.

“Terreur is nou ’n groot bedreiging wêreldwyd, en ons kan nie ons teenwoordigheid in Afganistan aanhou uitbrei en verskerp en hoop dit sal uiteindelik die ideale toestande skep om aan die land te onttrek nie.”

Geweld teen veral vroue en kinders het die afgelope jaar in Afganistan toegeneem, luidens statistieke van die Verenigde Nasies wat Woensdag uitgereik is. Die Taliban het nou groter beheer in die land as op enige tydstip die afgelope twee dekades.

The Guardian  berig dis veral vroue wat bekommerd is oor die Taliban-bewind. ’n Student aan die Herat-Universiteit sê sy is bang sy word verbied om die huis te verlaat, wat nog te sê van studeer.

Ná Amerika se aankondiging het lande soos Duitsland ook te kenne gegee hulle gaan hulle onttrek, en inwoners is nou angsbevange omdat hulle meen die troepe het die Taliban in toom gehou.

Die BBC berig met ’n besoek aan die Balk-distrik is hulle deur swaargewapende Taliban-lede in rye aan weerskante van die pad verwelkom. Dit was vroeër een van die stabieler dele, maar is nou een van die gewelddadigste.

’n Militêre bevelvoerder wat weens sy wreedheid berug is, het gedurende die onderhoud met die BBC padaf na die regeringsmagte gewys en gesê “hulle staan net daar en weet hulle moenie hul basis verlaat nie. Die gebied behoort aan die moedjahedien.”

The New York Times het ook berig oor inwoners se vrese ná Biden se besluit.

’n Hoërskoolleerling in Kaboel sê sy is bang dat sy nie haar skoolloopbaan sal mag voltooi nie. ’n Granaatboer van Kandahar wonder of sy vrugteboorde ooit sal dra en of hulle deur die Taliban se landmyne verwoes sal word. ’n Weermaglid in Gasni sê sy grootste vrees is dat hy nooit weer sal ophou veg nie.

’n Bevelvoerder van die weermag in Gasni het aan The New York Times gesê dit is nie die regte tyd vir Amerika om sy troepe te onttrek nie, dat die besluit oorhaastig en onredelik is en tot nog ’n burgeroorlog gaan lei.


Meer oor:  Joe Biden  |  Afganistan  |  Vroueregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.