Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Vroue in Iran protesteer teen dra van hijab

Vroue in Iran haal hul kopdoeke af uit protes teen die wet in dié land wat vereis dat vroue dié hoofbedekking dra.

Foto’s van vroue wat in openbare plekke staan en stokke rondswaai waaraan hul hijabs (sluiers) hang, het op sosiale media verskyn, berig CNN.

Die betogings neem toe vandat die 31-jarige ma Vida Mohaved Sondag vrygelaat is nadat sy in Desember in hegtenis geneem is omdat sy haar kopdoek tydens ’n betoging teen die regime afgehaal het.

Mohaved het in die middestad van Teheran betoog.

’n Vrou betoog in Teheran teen die verpligting om die hijab te dra deur haar sluier af te haal en dit op ’n stok rond te swaai. Foto: Twitter

Talle vroue het vandeesweek in die strate van Teheran betoog en hul swart, wit en rooi sluiers afgehaal.

Minstens een vrou het in die konserwatiewe stad Mashhad, een van die heiligste Islamitiese stede, gerebelleer, berig die Financial Times.

“Ek is ’n trotse Moslem en ek bid elke dag, maar ek is nie bang om my lewe te verloor deur te betoog teen die hijab nie. Dit is ’n persoonlike aangeleentheid vir my,” sê ene Elham (44) en ruk haar hijab af terwyl sy in ’n straat in Teheran loop.

“Ek kan nie my 11-jarige dogter dwing om haar hare te bedek nie. Hoe kan ’n regime dit aan volwasse vroue doen?”

Die hutsmerk #The Girls of Revolution Avenue, ter ere van Mohaved, word op sosiale media gesirkuleer.

Nog ’n voorval in Teheran waar ’n vrou teen die verpligte dra van die hijab betoog deur haar sluier op ’n stok rond te swaai.Foto: Twitter

Nasrin Sotoudeh, ’n prokureur wat vanaf 2010 minstens drie jaar in die tronk was weens “propaganda teen die stelsel”, sê dié revolusie dui op ’n keerpunt in die stryd teen die verpligting om die hijab te dra.

“Hierdie nuwe betogings is openbare en vreedsame optrede ten einde alle aspekte van politici se beheer van mense te verwerp,” sê Sotoudeh.

Die toepassing van die wet, wat in 1979 ná die Islamitiese Revolusie bekragtig is, is onlangs verslap.

In die verlede is vroue wie se hijabs afgegly het, deur die geloofspolisie tereggewys, maar dié vergrype is nie onder die regime van pres. Hassan Rouhani so prominent nie.

Die owerhede het ook aangekondig dat vroue wat met onbehoorlike kopdoeke rondry, nie meer in hegtenis geneem sal word nie, maar ’n relatiewe klein boete opgelê sal word.

Die verslapping het jonger vroue aangemoedig om te rebelleer teen die wet, maar hulle is steeds in onlangse voorvalle in hegtenis geneem nadat hulle hul sluiers afgehaal het.


Meer oor:  Vroueregte  |  Protes  |  Iran  |  Hijab
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.