Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VSA-aanvaller was onlangs in SA

Die man wat Vrydagmiddag twee polisiebeamptes buite die Amerikaanse kongresgebou in Washington met ’n mes aangeval het, het onlangs na Suid-Afrika en Botswana gereis.

Speurders kon tot dusver nie vasstel of dié reise iets met die aanval, waarin die aanvaller en ’n polisieman dood is, verband hou nie.

Die 25-jarige Noah Green het Vrydagmiddag 13:00 met sy motor in versperrings om die kongresgebou vasgery en twee polisiemanne wat daar aan diens was getref. Hy het daarna uit sy motor geklim en mes in die hand op die polisiemanne afgestorm.

Noah Green Foto: SkyNews.com

Die polisiemanne het op Green geskiet nadat hy nie op mondelinge waarskuwings gereageer het nie. Green is op die toneel dood verklaar.

William “Billy” Evans, ’n veteraanpolisieman en pa van twee, het ook aan sy beserings beswyk. Die tweede polisieman se toestand is stabiel.

Hoewel Green op sy Facebook-blad die Islamitiese leier Louis Farrakhan se lof besing, skryf Amerikaanse owerhede nie die voorval aan terreur toe nie.

Green se broer, Brendan, het aan die Washington Post gesê sy broer het met dwelmmisbruik en paranoia gesukkel en dat die familie bekommerd was oor sy geesteswelstand. Volgens Brendan was sy broer Donderdagaand verskriklik siek en het Green later in ’n teksboodskap aan hom gesê hy beplan om haweloos te word. Green was werkloos.

Volgens mediaberigte het Green op Facebook geskryf oor die “eindtye”, die Antichris en hoe die Amerikaanse regering “die nommer-een-vyand van swart mense is”.

Die Amerikaanse vlag hang Vrydag halfmas by die Amerikaanse kongresgebou ná die aanval Vrydagmiddag waarin die polisieman William Evans dood is. Foto: AP

Hy het geskryf oor die moeilike tye wat hy ervaar het en hoe die afgelope tyd “nog moeiliker” was.

Facebook het in ’n verklaring gesê hulle het Green se profiel van Facebook en Instagram verwyder en is in kontak met die owerhede.

Die kongresgebou en omliggende gebied is onmiddellik ná die voorval afgesper, maar later weer oopgestel. Die kongres is tans in reses.

Pres. Joe Biden het opdrag gegee dat vlae by die Withuis halfmas hang. Biden is tans by Camp David, die presidensiële vakansiehuis in die deelstaat Maryland, maar hy word deurlopend op die hoogte gehou van die ondersoek.

Die beveiliging van die kongresgebou is die laaste paar weke verslap en die buitenste kordon om die gebied is verwyder. Die kongresgebou en omliggende paaie word ná die beleg van ondersteuners van oudpres. Donald Trump op 6 Januarie vanjaar afgesper.

Die kongres en senaat was op 6 Januarie besig om die verkiesingsuitslae te sertifiseer toe duisende Trump-ondersteuners die gebou bestorm het. Lede van die nasionale wag is ná die Januarie-aanval om die kongresgebou ontplooi, maar duisende van die wag se lede is sedertdien huis toe gestuur. – Reuters met by komende inligting van SkyNews en CNN

Meer oor:  Washington  |  Amerika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.