Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VSA, Japan waarsku Brittanje oor EU-besluit
Pres. Jacob Zuma en China se pres. Xi Jinping Sondag in Hangzhou, China, nadat hulle ten tyde van die G20-beraad bilaterale samesprekings gevoer het. Foto: GCIS

Twee van Brittanje se grootste bondgenote het Theresa May, nuwe Britse eerste minister, op haar eerste G20-beraad goed laat verstaan dat Brittanje se besluit om sy bande met die Europese Unie (EU) te verbreek, verkeerd was.

Die G20-beraad word in Hangzhou, China, gehou.

Pres. Barack Obama van die VSA het May gewaarsku dat Brittanje nie voorkeurbehandeling met handelsooreenkomste sal kry noudat hy hom aan die EU onttrek nie, terwyl Japan ’n dokument van 15 bladsye aan die Britse premier oorhandig het waarin hy waarsku oor die gevolge van die Brexit-besluit.

Sowat die helfte van Japanse beleggings in die EU is in Brittanje.

Een van die Brexit-gevolge is dat Japanse banke, motorvervaardigers en farmaseutiese en ander maatskappe hul streekhoofkantoor van Brittanje na EU-lande sal verskuif.

Obama het in ’n bilaterale gesprek aan May gesê die VSA sal eers op handelsooreenkomste met die EU en die blok lande aan die Stille Oseaan fokus voordat hy ooreenkomste met Brittanje sal oorweeg.

Dit is May se eerste G20-beraad sedert sy vroeër vanjaar as eerste minister by David Cameron oorgeneem het. Cameron het bedank nadat die Britte in ’n referendum besluit het die land moenie meer deel van die EU wees nie.

Suid-Afrika word op die beraad deur pres. Jacob Zuma verteenwoordig.

Hy word vergesel van Pravin Gordhan, minister van finansies.

Rapport het Sondag berig Zuma het aan boord van ’n gehuurde Angolese vliegtuig China toe gevlieg en Gordhan op ’n kommersiële vlug.

Die presidensie het in ’n verklaring gesê Zuma en die staatshoofde van die vier ander Brics-lande, China, Brasilië, Indië en Rusland, het ten tyde van die beraad vergader en onder meer gepraat oor die wêreldpolitiek en -ekonomie, veiligheid, regeringskwessies en sake van gemeenskaplike belang.

Zuma het ook bilaterale gesprekke gevoer met onder andere pres. Xi Jinping van China en die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau.

Die beraad eindig vandag.

  • Bykomende bronne: Reuters, The Telegraph, The Guardian

Meer oor:  Theresa May  |  Sarel Van Der Walt  |  Vsa  |  Brexit  |  Eu  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.