Samesprekings tussen die Demokrate en Republikeine oor pres. Donald Trump se grensmuur tussen die VSA en Mexiko het Sondagaand weer op ’n dooiepunt uitgeloop.
Die Republikeinse senator Richard Shelby het aan Fox News Sunday gesê dat die gesprekke vir eers gestaak is omdat die Demokrate wil hê daar moet net ’n sekere aantal beddens beskikbaar gestel word vir onwettige immigrante in aanhouding.
Die Demokrate wil verseker dat die immigrasie-owerhede eerder konsentreer op immigrante met misdaadrekords en nie mense summier aanhou wat langer in die land aanbly as wat hul visums toelaat nie, berig New York Times.

Pres. Donald Trump van Amerika Foto: Getty Images
Die Demokratiese senator Jon Tester sê egter oor die dooiepunt dat onderhandelings lank neem.
Shelby het aangedui dat die kanse dat hulle teen Maandag (plaaslike tyd) tot ’n vergelyk sou kom, net 50-50 is.
’n Anonieme bron het aan Reuters gesê dat daar nie verdere vergaderings vir besprekings geskeduleer is nie.
Die doelwit is om teen Maandag ’n ooreenkoms te bereik sodat wetgewing in die kongres goedgekeur kan word vir die befondsing van federale staatsdepartemente wat oor Kersfees en tot in Januarie gesluit was.
Trump sou dan die wetgewing teen Vrydag kon onderteken, wanneer die tussentydse ooreenkoms vir die befondsing vir die departemente verstryk.
Trump het op 25 Januarie ingestem om die regering, wat vir ’n rekord 35 dae gesluit was, oop te stel.
Die sluiting was weens die Demokrate wat geweier om die $5,7 miljard wat Trump vir die befondsing van die grensmuur soek goed te keur. Die twispunt het beteken wetgewing vir die befondsing vir sekere staatsdepartemente kon nie betyds goedgekeur word nie.
Indien die Demokrate en Republikeine nou weer nie tot ’n vergelyk kom nie, sal die Amerikaanse regering weer gedeeltelik gesluit word.
Trump het ook aangedui dat hy ’n nasionale noodtoestand kan afkondig indien die gesprekke op niks uitloop nie.
So sal hy sal die grensmuur tussen Amerika en Mexiko kan bou omdat noodfondse dan daarvoor beskikbaar gestel kan word. – Reuters