Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VSA se vloot ‘erken’ bestaan van VVV’s

Die Amerikaanse vloot het met die deklassifikasie van drie video’s oor ongeïdentifiseerde voorwerpe, die gerugte oor dié vreemde vlieënde voorwerpe (VVV’s) bevestig.

Vlootvlieëniers het gesê hulle het ongeïdentifiseerde VVV’s in 2004 en 2015 in verbode militêre lugruimte gesien, berig LiveScience.

’n Woordvoerder van die vloot, Joseph Gradisher, het vandeesweek bevestig dat die vloot nie kon vasstel wat die voorwerpe was nie. Hulle het dit in ’n verklaring aan The Black Vault, ’n webtuiste wat hom toespits op gedeklassifiseerde regeringsdokumente, beskryf as “ongeïdentifiseerde verskynsels in die lug, oftewel UAP’s – in gewone taal VVV’s.

’n Videogreep van ’n VVV wat deur militêre vlieëniers in Amerika gesien is.

Die voorwerpe is derduisende meters bo die aarde gesien waar dit voortsnel sonder enige waarneembare vlerke of aandrywingstelsels. Dit kon tot dusver nie as enigiets bekend geïdentifiseer word nie.

The Black Vault skryf dit is moontlik dat die video’s per ongeluk in die openbaar beland het toe ’n voormalige werknemer van die Pentagon toestemming verkry het om dit na verskeie regeringsagentskappe te stuur. Daar word vermoed dat hy dit per ongeluk veel wyer uitgestuur het.

The New York Times het die video’s in Desember 2017 en Maart 2018 openbaar gemaak.

Op die video van 2004 het die VVV’s skielik op 80 000 voet verskyn, reguit seewaarts geduik en op 20 000 voet tot stilstand gekom en in die lug gehang. Daarna het hulle óf onder die radar uit verdwyn óf reguit opgeskiet.

Niemand in die vloot sê dat hierdie geheimsinnige “vliegtuie” iets met ruimtewesens te doen het nie – al wat gesê word, is dat dit nie verklaar kan word met die huidige beskikbare lugvaartkunde nie, berig CBC News.

Gradisher sê die rede hoekom die video’s uitgereik is, is om leerlingvlieëniers aan te spoor om sulke voorvalle te rapporteer, berig CNN.

Daar is volgens hom dikwels sulke “invalle” oor oefenterreine. Dit hou volgens Gradisher ’n gevaar in vir hul vlieëniers en die veiligheid van hul operasies.

“Ons vlieëniers het vir baie jare nie hierdie verskynsels aangemeld nie weens die stigma van vorige terminologie en teorieë oor wat dit mag wees of nie mag wees nie,” sê Gradisher.

Die enigste manier om uit te vind wat die VVV’s is, is om leerlingvlieëniers te leer om dit te rapporteer wanneer hulle dit sien, sê hy.

Time berig Gradisher het verduidelik waarom die vloot verkies om van UAP’s te praat pleks van VVV’s. Dit is omdat dit ’n “basiese beskrywing gee vir die waarneming van ongemagtigde/ongeïdentifiseerde vliegtuie of voorwerpe wat die lugruimte bo verskeie militêr beheerde oefenterreine betree”, het hy gesê.

USA Today het die vlieëniers van een van die video’s van 2015 aangehaal: “Dis ’n f****n hommeltuig, bro,” sê een vlieënier aan sy kollega.

“My genade! Hulle vlieg almal teen die wind in.

“Kyk net na daai ding, dude!”

Meer oor:  Vsa  |  Wêreld  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.