Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VSA-sluiting nou al langste in geskiedenis

Die huidige gedeeltelike sluiting van die Amerikaanse federale regering duur nou die langste van alle soortgelyke sluitings in dié land se geskiedenis.

Die New York Post berig die sluiting is nou in sy 22ste dag en dit is langer as die 21 dae wat die regering onder pres. Bill Clinton gesluit was. Dié sluiting was van 15 Desember 1995 tot 6 Januarie 1996.

Dit lyk asof die huidige sluiting nog ’n paar dae langer kan duur omdat die Demokraties beheerde kongres pres. Donald Trump se eis vir $5,7 miljard om ’n muur te bou, verwerp het.

Donald Trump

Nege van die 15 kabinetbeheerde staatsdepartemente kry tans geen finansiering van die regering nie.

Die departement van verdediging en die departement vir veterane word nie deur die sluiting geraak nie omdat hulle tot in September gefinansier is.

Die New York Times berig dat Trump nie haastig lyk om ’n noodtoestand af te kondig om só geld vir die muur te kry nie, maar dié gedagte kry al hoe meer steun.

Trump hou vol dat hy die gesag het om wel ’n noodtoestand af te kondig, maar nie haastig is om dit te doen nie omdat hy verkies om saam met die kongres te werk.

Intussen het 800 000 staatsamptenare nie Vrydag hul salarisse gekry nie. Van hulle het foto’s van hul salarisstrokies wat aandui geen betaling is ontvang nie, op sosiale media gedeel en gevra dat die sluiting opgehef word.

Baie mense in die Withuis vrees dat die sluiting kiesers teen die president sal laat draai.

Die Withuis is intussen besig om te kyk na ander moontlikhede om Trump se muur te finansier en om geld uit ander departemente se koffers te kanaliseer.

CNN berig dat Nancy Pelosi, speaker in die kongres, en Chuck Schumer, die Demokrate se leier in die senaat, Trump skerp veroordeel oor die volgehoue sluiting van die regering.

Pelosi beskuldig Trump daarvan dat hy die Amerikaanse nasie gyselaar hou om sy sin te kry.

Talle senatore sê die enigste oplossing sal wees dat Trump, Pelosi en Schumer saamwerk om ’n ooreenkoms te bereik wat vir almal aanvaarbaar is.

Sen. Lindsey Graham van Suid-Carolina het Donderdag ná dae se samesprekings aan verslaggewers gesê sy sien nie ’n oplossing vorentoe nie.

Meer oor:  Donald Trump  |  Vsa-Sluiting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.