Lisa Montgomery (52) – die enigste vroulike gevangene in federale dodeselle in Amerika – is Woensdag tereggestel.
Sy was ook die eerste vrou in 67 jaar wat deur die federale regering tereggestel is en is die 11de persoon wat tereggestel is sedert pres. Donald Trump in Julie federale teregstellings vir die eerste keer in 17 jaar hervat het.
Sy is per inspuiting tereggestel nadat die opskorting van eksekusie op die laaste oomblik deur die hof opgehef is.
Montgomery het in 2004 die swanger Bobbie Jo Stinnett (23) gewurg voordat sy haar baba uitgesny en ontvoer het. Stinnett het doodgebloei, maar haar babadogter het die aanval oorleef.
Die saak het wyd opslae gemaak omdat haar advokate aangevoer het dat sy geestelik siek was en as kind ernstig mishandel is.
Kelley Henry, Montgomery se prokureur, sê almal wat aan die proses deelgeneem het om haar tereg te stel “moet hulle skaam”.
“Die regering het niks laat staan in die pad van sy ywer om hierdie beskadigde en geestesiek vrou dood te maak nie,” het sy in ’n verklaring gesê.
“Die teregstelling van Lisa Montgomery was ver van geregtigheid.”
Montgomery sou aanvanklik op 8 Desember tereggestel word, maar die datum is twee keer uitgestel – eers weens die koronaviruspandemie en daarna deur ’n regter in Indiana wat Maandag die geskeduleerde proses gestop het sodat ’n verhoor kon plaasvind om Montgomery se geestelike bevoegdheid te bepaal. Die opskorting van eksekusie is egter deur die hooggeregshof omgekeer.
Haar prokureurs het aangevoer dat sy met breinskade gebore is en dat sy te geestelik versteurd was om te besef sy word tereggestel.
Sy is as kind gereeld seksueel en fisiek deur haar pa aangerand en deur haar ma mishandel, het familielede gesê. Haar ouers se optrede was so gewelddadig dat dit as marteling beskou kan word, het haar regsverteenwoordigers gesê.
Hulle meen sy was ten tyde van die aanval op Stinnett psigoties.
Dié mening word deur 41 huidige en voormalige prokureurs, asook menseregtegroepe soos die Inter-Amerikaanse Kommissie vir menseregte, ondersteun.
Haar slagoffer se familie en vriende meen egter dat die moord so wreed was dat sy ten spyte van haar geestestoestand verdien het om tereggestel te word.