Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
VSA wil ‘iets’ vir klimaat doen, maar is verdeeld

Demokrate, onder wie ses Amerikaanse presidentskandidate, het Dinsdag ’n kongres-resolusie bekend gemaak waarin ’n noodtoestand oor klimaatverandering verklaar word.

Gevaarlike styging in temperature word wêreldwyd ervaar. Foto: Pixabay

Dit is gedoen om wydlopende veranderings aan te moedig om die gevaarlike styging in temperature wêreldwyd te stuit.

Die nie-bindende resolusie is deur Alexandria Ocasio-Cortez, demokratiese verteenwoordiger vir die deelstaat New York, Earl Blumenauer en sen. Bernie Sanders, presidentskandidaat, voorgestel.

In die resolusie word aangedring op “nasionale, maatskaplike, ekonomiese en nywerheidsmobilisasie” om die gevolge van die klimaatkrisis “te stop, in trurat te sit, te versag en om die klimaat vir toekomstige generasies te herstel”.

Dit volg op ’n projeksie deur die Verenigde Nasies (VN) se interregeringspaneel oor klimaat, dat die aarde oor 12 jaar 1,5 °C warmer kan wees as voor industrialisasie wat “onomkeerbare, katastrofiese gevolge” vir die planeet inhou.

“Om die klimaatkrisis aan te pak, moet ons die waarheid oor hierdie bedreiging vertel,” het Blumenauer gesê.

Ocasio-Cortez het gesê dit is ’n politieke krisis omdat niemand iets doen nie. “Dit gaan politieke wil en politieke moed vat om dit met dringendheid te hanteer.”

’n Dag vantevore het pres. Donald Trump in ’n toespraak sy regering se omgewingsrekord opgenoem. Hy het nie klimaatsverandering genoem nie en het die Green New Deal-platform gekritiseer.

Die nuwe platform vra vir die vinnige herstrukturering van die Amerikaanse ekonomie se afhanklikheid van fossielbrandstof.

Dit word deur Ocasio-Cortez en baie demokrate ondersteun. Altesame 16 van die 20 Demokratiese presidentskandidate ondersteun dit of help om dit te borg.

Geen stemdatum is nog vir die resolusie vasgestel nie. Dit het 12 borge in die huis van verteenwoordigers en ses in die senaat. Die lede van die huis en die senaat vorm die Amerikaanse kongres.

Klimaatsaktiviste wêreldwyd probeer regerings oortuig om klimaatverandering as ’n noodsituasie te erken.

Die Britse parlement het in Mei ’n simboliese noodtoestand weens klimaatsverandering afgekondig met sy ondersteuning aan Jeremy Corbyn, opposisieleier, se oproep om die omgewing te beskerm. Dit het gekom ná weke van openbare protes deur die klimaatbeweging Extinction Rebellion.

Meer as 700 owerhede in 16 lande het reeds klimaatnoodsituasies verklaar, luidens die Climate Mobilisation Group.

Republikeine in die Amerikaanse kongres wil nie die Green New Deal ondersteun nie, maar het al begin met voorstelle vir “markgeoriënteerde” benaderings om die omgewing te beskerm.

Republikeinse lede van die huis en die senaat sal Woensdag die Roosevelt Conservation Caucus vorm. Hulle wil maatreëls voorstel om markgeoriënteerde skoonenergie-oplossings te bevorder, om die uitvoer van skoon energiebronne uit te brei en om regeringsgrond aan die publiek oop te stel. – Reuters

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Omgewing  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.