Die wêreld se infeksiesyfer het Woensdag die 100 miljoen-kerf verbygesteek meer as ’n jaar nadat die eerste koronavirusgeval in China aangemeld is.
Die Johns Hopkins-Universiteit, wat Covid-19-gevalle en -sterftes wêreldwyd monitor, het hierdie statistiek Woensdag bekend gemaak. Die universiteit sê meer as 2,1 miljoen sterftes is ook reeds wêreldwyd aangemeld.
Die kumulatiewe wêreldwye infeksies is 100 243 101 met 2 156 850 sterftes.
Volgens die universiteit se jongste beskikbare data het Amerika met 25 437 228 die meeste infeksies in die wêreld aangemeld, met Indië wat met 10 676 838 koronavirusgevalle die tweede meeste gevalle in die wêreld aangeteken het.
Dié data toon dat 19 lande se infeksies reeds die 1 miljoen-kerf verbygesteek het.
Suid-Afrika het volgens hierdie statistieke die 15de meeste koronavirusgevalle in die wêreld aangemeld nadat hy in ’n stadium die vyfde meeste gevalle aangeteken het.
Suid-Afrika het egter teruggesak op die wêreldlys van lande met die meeste infeksies nadat die Europese lande hul tweede vlaag bereik en duisende nuwe daaglikse infeksies begin aanteken het.
Volgens die Johns Hopkins-Universiteit het die Chinese stad Wuhan op 29 Desember 2019 vir die eerste keer Covid-19-gevalle begin naspoor.
China het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) op 31 Desember 2019 in kennis gestel dat ’n virussiekte in die land bespeur is.
Dié land het op 7 Januarie 2020 besef die virussiekte is ’n nuwe koronavirus nadat ’n dokter en 13 verpleegsters in Wuhan die virussiekte opgedoen het nadat hulle op ’n man geopereer het wat die virus gehad het.
Volgens die WGO is die virus op 13 Januarie 2020 vir die eerste keer buite China bespeur toe ’n man in Thailand positief vir die virussiekte getoets is.
Die WGO het ’n wêreldwye pandemie op 11 Maart 2020 afgekondig, enkele dae nadat Suid-Afrika op 5 Maart 2020 sy eerste geval aangemeld het.