Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Wêreld steier onder Covid-19

Terwyl Spanje vir die derde agtereenvolgende dag ’n rekordgetal sterfgevalle weens Covid-19 aangeteken het en sy gesondheidstelsel op breekpunt is, het pres. Hassan Rouhani van Iran die eerste wêreldleier geword om reguit te sê dat sy mense gereed moet maak om dalk vir tot twee jaar met die siekte saam te leef.

In die VSA is boonop amptelik voorspel dat die virus tot 200 000 mense daar kan laat sterf.

In Brittanje het Michael Gove, ’n kabinetsminister, gesê dat die inperking in Brittanje “ ’n aansienlike tydperk” kan duur.

Spanje het Sondag nog 838 sterftes in die 24 uur tot Sondagmiddag aangeteken, wat die totaal op 6 528 te staan gebring het, terwyl die regering skerper maatreëls ingestel het om mense se beweging aan bande te lê.

Die getal pasiënte in Spanje het die amptelike kapasiteit van 4 404 beddens in waakeenhede Saterdag verbygesteek.

In Madrid, die episentrum van die uitbreking, is ’n tydelike hospitaal in die stad se hoofkonferensiesentrum ingerig.

In Italië het die dodetal Sondag met 756 toegeneem en op 10 799 te staan gekom. Dit is ’n afname in die daaglikse sterftesyfer.

Polisielede klap hande vir gesondheidswerkers buite die Gregorio Maranon-hospitaal in Madrid, Spanje. Foto: reuters

In Iran het 2 640 mense reeds weens Covid-19 gesterf nadat nóg 123 mense in die 24 uur tot Sondag dood is. Nóg 2 901 mense is besmet en die syfer het teen Sondagaand op 38 300 gestaan. Rouhani sê die verspreiding van die ­virus het darem in sommige provinsies afgeneem.

Indonesië gaan dalk moontlik Maandag aankondig dat hy byna 30 mense in en om die hoofstad, Djakarta, in kwarantyn plaas om die verspreiding van die siekte te probeer stuit, wat reeds die lewe van meer as 100 mense in die wêreld se vierde digsbevolkte gebied geëis het.

Die plan vir die inperking volg op ’n skerp styging in bevestigde gevalle, 675 mense, wat in Djakarta aangeteken is.

Altesame 114 mense is al in Indonesië dood, die meeste in enige land in Suidoos-Asië.

In Japan beplan die regering om vervaardigers te versoek om meer ventilators te maak sou daar ’n tekort ontstaan.

Yasutoshi Nishimura, minister van gesondheid, sê hulle wil “soveel moontlik” ventilators bekom bykomend tot die 3 000 wat hulle reeds het.

Namate besmettings in Tokio styg, is dié land nou op die punt daarvan om ’n noodtoestand af te kondig. Yuriko Koike, goewerneur van Tokio, het inwoners reeds versoek om tuis te bly.

Duitsland kan dalk ’n tekort aan kritieke mediese toerusting en hospitaalkapasiteit ervaar, selfs al vaar die land tot dusver taamlik goed in die bestryding van die virus, het wetenskaplikes en politici Sondag gesê.

’n Priester staan op die dak van die Santa Maria della Salute-kerk in Napels, Italië. Foto: reuters

“Ons kan nie die moontlikheid uitsluit dat ons meer pasiënte gaan hê as waarvoor ons ventilators en toerusting het nie,” het Lothar Wieler, voorsitter van die Robert Koch-instituut, aan die koerant Frankfurter Allgemeine Sonntagszeitung gesê.

“Die land moet erken dat sy kapasiteit moontlik nie voldoende gaan wees nie”, het hy gesê.

Die land het ’n strategie nodig om kapasiteit te verhoog en om sentrale beplanning te verskerp omdat daar nie genoeg beskermingstoerusting, toetsmateriaal en ventilators is nie, het Barbel Bas, gesondheidsorgkenner van die Sosiaal Demokratiese Party en parlementslid, gesê.

Die sterftes is betreklik min in Duitsland as dit met ander Europese lande vergelyk word. Altesaam 57 695 gevalle is teen Saterdag aangemeld en 433 mense het gesterf.

Duitsland het die afgelope twee weke stelselmatig beperkings ingestel op mense se bewegings.

In die VSA het dr. Anthony Fauci, direkteur van die Nasionale Instituut vir Allergiese en Aansteeklike Siektes, gesê sy voorspelling van tot 200 000 sterftes in dié land is “vloeibaar”.

Die deelstaat Louisiana, wat op drie na die hoogste sterftesyfer het, kan binne ’n week te min ventilators in New Orleans hê.

Daar is reeds byna 125 000 bevestigde gevalle in die VSA met meer as 2 000 sterftes.

Vas Narasimhan, uitvoerende hoof van die farmaseutiese reus Novartis, het aan die Switserse koerant SonntagsZeitung gesê hoewel die eerste vlaag van die virus waarskynlik in die komende maande tot ’n einde sal kom, die wêreld hom moet begin voorberei op “ ’n tweede vlaag”.

Hy het gesê hoewel die tempo van infeksies in Italië en Spanje afneem en dat die twee lande waarskynlik ’n hoogtepunt bereik het, is ’n groot golf na die VSA onderweg.

In Brittanje het Gove in ’n radio-onderhoud met die BBC gesê die inperking in Brittanje kan “ ’n aansienlike tydperk” duur.

Hy sê die duur van die beperkende maatreëls sal afhang van hoe ernstig Britte die regering se raad opneem.

Hiermee het hy herhaal wat Boris Johnson, premier, in ’n brief die week aan elke Britse huishouding gesê het. Johnson en Matt Hancock, minister van gesondheid, het albei die virus onder lede. – Bloomberg

Meer oor:  Koronavirus  |  Leiers  |  Sterftes  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.