Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
WGO moet dreigende krisisse deursigtiger hanteer, vra EU

Die Europese Unie (EU) wil hê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moet deursigtiger wees in die manier waarop dreigende gesondheidskrisisse aangemeld word, lui ’n konsepvoorstel oor die hervorming van dié agentskap van die Verenigde Nasies (VN).

Die voorstel hou verband met China se aanvanklike hantering van die Covid-19-uitbreking.

Die EU probeer oplossings vir die tekortkominge van die WGO oor finansiering, regering en regsbevoegdhede vind en die verslag is ná gesprekke met lidlande deur die Duitse regering opgestel.

In die dokument, wat 19 Oktober gedateer is en wat Reuters onder oë gehad het, word die WGO gevra om maatreëls te tref wat die “deursigtigheid oor nasionale nakoming” van die internasionale gesondheidsregulasies sal verbeter.

Dit vereis dat WGO-lidlande vinnig inligting oor gesondheidsnoodgevalle moet deel.

Die VSA het die WGO daarvan beskuldig dat hy in die eerste fase van die pandemie te na aan China was toe die Chinese reering traag was om belangrike inligting oor die nuwe koronavirus te deel. Die virus het eerste in die stad Wuhan kop uitgesteek.

Pres. Donald Trump het gesê die VSA sal sy lidmaatskap van die agentskap beëindig en sy finansiering as gevolg daarvan staak.

Die WGO het die aantygings herhaaldelik verwerp. Die agentskap het nie op versoeke om kommentaar oor die EU-voorstel gereageer nie.

Toe hy Donderdag oor die dokument gevra is, het Zhao Lijian, Chinese minister van buitelandse sake, gesê China “neem aktief deel” aan die hervorming van die WGO, wat volgens hom nooit die belange van een land moet dien nie.

koronavirus
Lede van die Tsjeggiese weermag rig hospitaalbeddens in in 'n uitstalsentrum in Praag. Foto: Reuters

Deur die hervormings moet “politieke inmenging in die WGO eerder gestaak word” en sy hulpbronne, vermoë om wêreldwye gesondheidskrisisse te hanteer en sy steun vir ontwikkelende lande moet vergroot word, het Zhao in Beijing gesê.

Die Duitse regering wou nie kommentaar lewer op die inhoud van die dokument nie wat nog in konsepvorm is.

Die EU en sy lidlande is van die WGO se grootste skenkers en sal verreweg die grootste openbare bydraers wees as die VSA hom onttrek. Die EU-ministers van gesondheid sal die konsepdokument volgende week op ’n video-konferensie bespreek. Die dokument is daarop gemik om die EU se algemene standpunt voor die WGO-vergadering middel November te wees. Dit benadruk die EU se steun aan die WGO en die agentskap se sentrale rol in die hantering van wêreldwye gesondheidsuitdagings.

Onvoldoende deursigtigheid word egter ook uitgelig as die eerste van talle uitdagings wat die WGO in die gesig staar, as-ook ’n gebrek aan “voorspelbare en volhoubare” finansiering. Ook word gevra vir “staatspartye se konsekwent toegepaste verslagdoeningstelsel by die WGO-sekretariaat”.

Luidens die dokument moet meganismes om lande se nakoming van verslagdoeningsverpligtinge te evalueer, versterk word en binne gereelde, vasgestelde tydperke afgeteken word.

Die wanverhouding tussen WGO-lidlande se verwagtinge en die organisasie se vermoë moet as ’n prioriteit hanteer word, lui die dokument. – Reuters

Meer oor:  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.