’n Nuwe boek oor die Britse koninklikes wat bewerings insluit van ’n stram verhouding tussen die prinse William en Harry het die skindertonge behoorlik los.

Die omslag van ’n nuwe boek oor die Britse koninklikes.
Die boek, Battle of Brothers, is geskryf deur Robert Lacey, ’n bekende biograaf en raadgewer vir die televisiereeks The Crown, wat handel oor die monargie.
Volgens The Mirror word daar geskryf oor hoe gespanne die verhouding tussen Diana se seuns geraak het nadat Harry en Meghan, die hertogin van Sussex, uit hul koninklike pligte bedank het.
Die boek gaan nie net oor die broers se verhouding nie.
Lacey skryf ook koningin Elizabeth wou nie vir Meghan die tiara leen wat sy vir haar troue met Harry wou dra nie. Harry was glo geweldig ontsteld en het gesê: “Dit wat Meghan soek, dit kry sy.” Die koningin het vasgeskop en eenvoudig gesê: “Sy kry die tiara wat ék vir haar gee.”
Lacey skryf ook oor die hardnekkige gerugte oor wie Harry se biologiese pa sou wees. Prins Charles het blykbaar ’n ernstige gesprek met Harry gehad om hom te verseker dat hý werklik sy pa is.
Die skindertonge sê al jare lank James Hewitt, ’n vriend van Diana, is Harry se “regte” pa.
Mirror.co.uk berig “hy het vermoedelik benadruk hoe die kalender dié gerug onmoontlik maak, aangesien Hewitt nie vir Diana ontmoet het tot twee jaar ná Harry se geboorte nie”.
Harry is in 1984 gebore en Hewitt en Diana het mekaar glo eers in 1986 ontmoet. Luidens die boek het Harry na sy pa geluister, maar nie ’n woord gesê ná afloop daarvan nie.
Ná Harry en Meghan se skokaankondiging dat hulle die koninklike kollig gaan verlaat, het die koningin die familie byeengeroep vir ’n ete en ’n vergadering oor die logistieke reëlings vir die toekoms.
William het blykbaar geweier om saam met sy broer te eet en summier sy ouma se uitnodiging van die hand gewys. Blykbaar was hy ook hoogs ontsteld oor Harry en Meghan se “prima donna-gedrag” deur so geheimsinnig te wees oor die besonderhede van hul seun, Archie, se geboorte en wie sy peetouers is. Dis tradisie dat die familie weet wie die onderskeie moontlike troonopvolgers moreel ondersteun en lei.
William en sy vrou, Kate, hertogin van Cambridge, het agt dae ná Archie se geboorte die eerste keer gaan kuier.
The Guardian berig verder Meghan het verlede week in ’n potgooi van drie hoërskoolleerlinge se program Teenager Therapy gepraat oor geestesgesondheid en aanlyn boeliegedrag.
“Daar is vir my gesê ek was in 2019 die persoon wat die meeste deur internet-trolle geteister is.”
Sy het gesê die skade wat die volgehoue leuens aan haar geestes- en fisieke gesondheid aangerig het, was moeilik om te hanteer.
Meghan het van die egpaar se herehuis in Santa Barbara, Kalifornië, gepraat.