Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Mosambiek: ‘Wit vasgekeerdes is nié bevoordeel’

Kol. Lionel Dyck, eienaar van die Dyck Advisory Group (DAG), ontken bewerings van Amnestie Internasionaal (AI) dat die DAG voorkeur gegee het aan wit vasgekeerders toe hy ná die val van Palma in Mosambiek mense uit dié dorp gered het.

Nadat Moslem-vegters die dorp einde Maart aangeval het, het ’n geskatte 200 mense – buitelanders en plaaslike inwoners – in die Amarula Palma-hotel gaan skuil. Helikopters van die DAG het van hulle gered en na die nabygeleë Afungi-landingstrook gebring.

Die DAG, ’n paramilitêre veiligheidsmaatskappy wat gewoonlik teenstroping-operasies doen, se kontrak met die Mosambiekse polisie om die Islamitiese insurgensie vanuit die lug te beveg, het sedertdien verstryk.

Die afgelope week het die menseregteorganisasie AI beweer die DAG se personeel het op grond van velkleur besluit wie vlieg na veiligheid en wie nie. Daar was net ’n beperkte hoeveelheid helikopter-brandstof beskikbaar en almal kon nie gered word nie.

‘DAG was die enigste wat kom help het.’

Dyck het Saterdag gesê die DAG het 24 mense by die hotel gered. Ses van hulle was wit en 18 swart en van verskillende nasionaliteite. Hy sê sy span kon nie kies wie hulle ontruim nie. Hulle het die landingsplek beveilig en die hotel het mense in groepe van ses uitgestuur om ontruim te word.

“In geen stadium het enige van ons personeel die hotel binne gegaan nie,” sê Dyck.“Hierdie bewerings is niks anders as ’n kwaadwillige aanval op my persoon wat verbloem is as kommer oor rassisme nie,” het hy gister in ’n kort telefoniese gesprek gesê.

Rapport het ook gepraat met twee Suid-Afrikaners wat tydens die ontruiming by die Amarula Palma-hotel was.

“Die bewerings is twak. Jy verstaan nie hoe ek al gevloek en geswets het vandat ek daardie mediaverklaring gelees het nie,” het een Suid-Afrikaner gister op voorwaarde van anonimiteit vir Rapport gesê. “Ons was in daardie stadium aan drie kante omsingel deur die insurgente en die DAG het lugdekking verskaf terwyl ons almal binne weggekruip het.”

Hy sê ras was ook in die hotel nooit ’n faktor nie.

“Die eerste helikopter se passasiers was die administrateur van Palma, sy vrou en kinders en assistente. Daarna was dit nog vroue en kinders en mense met mediese toestande of gestremdhede. Die hotel se bestuur het besluit wie in watter volgorde moet uitgaan, nie die DAG nie.”

Nóg ’n Suid-Afrikaner wat by die hotel was, sê die DAG het almal daar se lewens gered.

“As dit nie vir hul lugdekking was nie, sou niemand oorleef het nie,” sê dié Suid-Afrikaner.

Hy sê as daar enigiets oor ras gesê móét word, is dit dat die buitelanders en die DAG tussen hulle ’n geskatte 200 swart mense ontruim het en slegs 20 wit mense.

“In ’n stadium het iemand die agterhek van die hotel oopgemaak en plaaslike mense het ingestorm. Ons het ongeveer 150 van hierdie mense saam met ons in die konvooi gevat toe ons op vlug geslaan het.”

Dié konvooi, bestaande uit 17 voertuie, het van die hotel vertrek nadat dit geblyk het almal sou nie per helikopter ontruim kan word nie.

’n Personeellid van die Amarula Palma-hotel het gister ook vir Rapport gesê die bewerings is onwaar.

“Die hotel se kombuis is sigbaar van buite die terrein. Die plaaslike mense het die hotelbestuurder ook ’n rassis genoem omdat hy nie meer koffie aan hulle wou verskaf nie. Hulle het geweier om te aanvaar dat dit te gevaarlik was om die kombuis te besoek,” het die personeellid gesê.

Hy sê die vasgekeerdes het almal probeer bel – “van die Suid-Afrikaanse regering en die Britse ambassade tot die Verenigde Nasies. Die DAG was die enigste mense wat kom help het.”

Meer oor:  Lionel Dyck  |  Mosambiek  |  Terrorisme  |  Dag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.