Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Witeiland-vulkaan: ‘Ons dorp se siel geruk’

“Die siel van ons dorpie is geruk.” Só beskryf Elsabé van Wyk, ’n sielkundige, die gemoed in Whakatane, ’n kusdorpie naaste aan Witeiland in Nieu-Seeland waar ’n vulkaanuitbarsting Maandag tot dood en erge beserings gelei het.

Elsabé van Wyk

Reddingswerkers het Vrydag op die eiland na die lyke van twee toergidse gesoek. Vroeër die dag is ses lyke gevind nadat hommeltuie ingespan is om na die oorledenes te soek. Dit bring die dodetal op minstens 15 te staan. Die soektog gaan Saterdag voort.

Van Wyk, voorheen van Bloemfontein en ’n alumnus en voormalige dosent aan die Universiteit van die Vrystaat, en Oloff Arnold, voorheen van Randburg in Johannesburg, werk vir die Bay of Plenty-distrikgesondheidsraad.

Van Wyk en Arnold, ’n voormalige luitenant-kolonel in die Suid-Afrikaanse Weermag, woon en werk albei reeds byna 20 jaar in Nieu-Seeland.

Hulle aanskou die trauma van die tragedie eerstehands in hul werk met die beseerdes, die naasbestaandes van die slagoffers en die hospitaalpersoneellede wat die slagoffers met erge brandwonde behandel.

Van Wyk vertel hoe hulp na die vulkaanuitbarsting ingestroom het.

“Vrywilligers het ingespring om die brandweer by te staan en sommige het bote beskikbaar gestel dat nooddienspersoneel Maandag na die eiland kon gaan. Mense het ook hul private helikopters aangebied. Restaurante gee gratis kos, kerke maak kos, mense stel hul huise oop vir die families van die slagoffers. Die ondersteuning is fantasties. Elke dokter en verpleegster het letterlik gejaag en ingespring by ons klein ongevalle,” sê Van Wyk.

Sy was Maandag in ’n vergadering by die werk toe die vulkaan sonder waarskuwing uitgebars het.

“Ek het ongewone rook in die lug gesien, maar nie dadelik besef wat aan die gebeur is nie.”

Oloff Arnold

Sy sou ook later uitvind dat sy van die jong mense geken het wat dood is en wat in die toerismebedryf gewerk het.

Sy sê die eiland het daagliks baie toeriste gelok.

“Witeiland het besonderse betekenis vir ons Maori (die inheemse Polinesiese bevolking van Nieu-Seeland). Dit is ook ’n groot bron van inkomste vir hulle.”

Witeiland word deur ’n gemeenskapstrust besit.

“Die daaglikse uitstappies per boot of helikopter het ’n groot aantal toeriste gelok.”

Van Wyk sê die aanvanklike hartseer oor die tragedie het die afgelope week plek gemaak vir woede, veral omdat nie al die oorledenes dadelik teruggebring is nie.

Die vorige uitbarsting op die eiland was in 2016.

Altesame 47 mense, waarvan ook toeriste, was Maandag op die eiland toe die vulkaan uitgebars het.

Meer oor:  Witeiland  |  Nieu-Seeland  |  Vulkaan  |  Dood  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.