Zimbabwiese leerlinge sal vandeesmaand teruggaan skool toe om hul eindeksamens te kan skryf nadat hulle ses maande lank weens die Covid-19-pandemie by die huis moes bly.
Die eerste leerlinge, wat op 14 September gaan terugkeer, is diegene wat die Cambridge International-eksamen moet aflê. Leerlinge wat die plaaslike eksamens moet skryf, sal twee weke later terugkeer, het die regering Dinsdag gesê.
“Die departement van onderwys werk nou saam met ander departemente en belanghebbendes om die veiligheid van die leerlinge en die personeellede in die eksamentyd te waarborg,” het die regering gesê.
Die departement het vroeër gesê hy sal voorkeur gee aan leerlinge wat hul eindeksamens moet skryf, en gesê ander leerlinge sal eers in 2021 na hul skole terugkeer.
In Zimbabwe is tot nou toe sowat 6 500 bevestigde Covid-19-gevalle en 202 sterftes aangeteken. Ondanks ’n toename in die infeksies die afgelope ses weke was die meeste gevalle matig, met ’n herstelkoers van sowat 80%, het die regering gesê.
Die owerhede kyk ook na die heropening van die lughawens om die toerismesektor te ondersteun. Die plan is om met die hervatting van binnelandse vlugte te begin en daarna internasionale vlugte te hervat. Geen datum is egter bekend gemaak nie. – Reuters
https://www.reuters.com/article/us-health-coronavirus-zimbabwe-schools-idUSKBN25S5XU?taid=5f4ee08cf67cb60001bf9010&utm_campaign=trueAnthem:+Trending+Content&utm_medium=trueAnthem&utm_source=twitter