Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Zim pak landmyne voor olifantverkope

Zimbabwe beplan om olifante aan Angola te verkoop en is gereed om wilde diere na enige belangstellende lande te stuur aangesien dié land sy olifantbevolking weens toenemende konflik tussen mens en dier wil verminder.

“Ons is oop vir enigeen wat ons diere wil hê,” het die minister van toerisme, Prisca Mupfumira, in ’n onderhoud by die natuurleweberaad op Victoria Falls gesê. “Die hoofprobleem is die landmyne in Angola, dus probeer ons hulle help met ’n fonds om iets aan die landmyne te doen voordat ons die diere stuur.”

Prisca MupfumiraFoto: Wikidata

Miljoene landmyne is gebruik in Angola se burgeroorlog van 27 jaar wat in 2002 geëindig het, en van baie moet nog ontslae geraak word.

Leiers van vier lande in Suider-Afrika, die tuiste van meer as die helfte van die wêreld se Afrika-olifante, het Dinsdag in Zimbabwe vergader om ’n gesamentlike beleid te bespreek en het oproepe aan die Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) om sommige van sy reëls te verslap beklemtoon, insluitend ’n moratorium op ivoorverkope.

Die vier lande – Zimbabwe, Namibië, Zambië en Botswana – het vroeër vanjaar kragte saamgesnoer om voor ’n wêreldkonferensie in Augustus druk op Cites uit te oefen.

Hulle het gesê hulle moet self kan besluit wat om met hul natuurlewe te doen en inkomste uit opgegaarde ivoorvoorraad kan vir bewaring gebruik word.

Botswana het gesê dié land het te veel olifante, terwyl Mupfumira gesê het Zimbabwe het 30 000 te veel van dié diere.

Pres. Hage Geingob van Namibië en prs. Edgar Lungu van Zambië het aan afgevaardigdes op die konferensie gesê die regte van gemeenskappe wat tussen die olifante woon, word misgekyk en ’n “nuwe ooreenkoms” moet met Cites aangegaan word wat hulle toelaat om uit die natuurlewe voordeel te trek.

Pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana, wat toesig gehou het oor die opheffing van die verbod op jag in Mei om inwoners in staat te stel om sommige van die olifante wat hul oeste verwoes te skiet, het soortgelyke opmerkings gemaak.

Zimbabwe het al in onlangse jare Afrika-olifante aan China verkoop.

Gambië in Wes-Afrika, wat geen dikhuiddiere het nie, het ook belangstelling getoon, het Mupfumira gesê.

“Hulle het gesê ons moet hulle kom leer en tegniese kennis stuur,” het sy gesê. - Bloomberg

Meer oor:  Angola  |  Zimbabwe  |  Olifante  |  Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.