Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Zim se klein gebaar is groot stap vir vertroue

Die R2 miljoen wat Zimbabwe se regering begroot het om boere te vergoed wie se plase in die vroeë 2000’s tydens Robert Mugabe se bewind gekonfiskeer is, is ’n druppel in die emmer, maar ’n belangrike eerste tree om beleggersvertroue te herstel.

Tommy Bayley, ’n voormalige boer van Zimbabwe, word in 2000 van sy plaas afgejaag deur “oorlogsveterane”. Foto: Foto24

Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) en erelid van die kommersiële boere-unie van Zimbabwe, het die stap as “nuutgevonde hoop” beskryf.

Zimbabwe het pas aangekondig dat hy Z$54 miljoen in die 2019-’20-boekjaar begroot het wat in gelyke dele uitbetaal gaan word aan dié boere wat die meeste sukkel nadat hulle plase gekonfiskeer is. Teen ’n wisselkoers van 3,9 sent per Zimbabwiese dollar is dit skaars meer as $149 000 of R2 miljoen, die geldeenhede wat steeds deur die meeste Zimbabwiërs verkies en gebruik word.

De Jager is die Zimbabwiese kommersiële boere se verteenwoordiger by die World Farmers’ Organisation.

Die waarde van hierdie “klein bedrag” moenie onderskat word nie.

De Jager meen die volle rekening om Mugabe se ondeurdagte grondonteienings te vereffen sal naby R126 miljard ($9 miljard) draai.

“Die Z$54 miljoen is miskien min, maar vir ’n bankrot land is die bloed wat hulle nou uit dié klip tap ’n teken dat hulle ’n oplossing probeer vind.”

Die waarde van hierdie “klein bedrag” moenie onderskat word nie.

“Dit sal ’n impak hê op honderde boere wat alles verloor het. Selfs die klein bedrag wat vir vanjaar begroot is, is vir sommige boere ’n uitkoms, veral dié wat sonder pensioen, ’n mediese fonds of enige vooruitsigte sit.”

Volgens De Jager is daar omtrent 120 wit boere wat nog op gedeeltes van hul plase produktief boer of grond by ander huur. “Nóg 4 500 wit voormalige Zimbabwe-boere hou kontak vanuit Suid-Afrika, Zambië, Mosambiek, Botswana, Nigerië, Kanada, Australië en Nieu-Seeland.”

Dis ook nie net die standaard-boer-op-sy-plaas-situasie in Zimbabwe nie, want ’n boer maak ’n plan. “Daar is ook jong boere wat nêrens georganiseer is nie en wat met woonwaens, trekkers en implemente rondtrek en verskillende stukkies grond huur om te bewerk. As hulle iewers afgeskop word, verloor hulle ’n klein deel van hul produksie – en trek net na die volgende plaas,” sê De Jager.

Hy sê die Zimbabwiese regering besef dat geen ander sektor van hul ekonomie groter potensiaal het om hul land weer op sy voete te kry as mededingende landbou nie.

Mugabe se onteieningsplanne was volgens De Jager nie ’n impulsiewe politieke besluit nie. “Destyds het die kommersiële grootboere, omtrent 4 500 van hulle, slegs ’n derde van die land se landbouproduksie uitgemaak. Kleinboere het die ander twee- derdes produseer.”

Mugabe het gedink sy land sal sonder dié een derde kan oorleef totdat die verlies deur die nuwe kleinboere opgemaak is. Hy het nie in ag geneem hoe inmekaar verweef klein- en grootboere se bestaan was nie.

“Die groot kommersiële boer het byvoorbeeld ’n trok wat sy produkte mark toe vervoer, en die kleinboer maak staat op plek vir sy ses sakke mielies op daardie trok. Vat jy skielik die grootboer uit die prentjie, sit die kleinboer in ’n penarie.”

Perence Shiri, Zimbabwe se minister van grondsake, landbou en landelike hervestiging, wou nie kommentaar lewer nie, en Rapport kon nie kontak maak met die minister van finansies, prof. Mthuli Ncube, nie.

‘Ons het hulp van die buiteland nodig’

Les de Jager (79) het in 2003 ál agt sy plase in Zimbabwe verloor.

Hy beskou die aankondiging van vergoeding as baie goeie nuus, het hy Vrydagaand vanuit Mosselbaai gesê. Hy sê hy het destyds elke jaar ongeveer 5 000 ha onder besproeiing gehad, en hy het ook met 5 000 beeste geboer. “Ek het alles verloor,” sê De Jager. Sedertdien keer hy steeds elke jaar terug om sy land van herkoms te besoek.

“As ’n land is ons nou met ons rug teen die muur. Ons kan onmoontlik bekostig om op ons eie al die boere te vergoed vir wat verloor is, so ons het hulp van die buiteland nodig.

“Die Z$54 miljoen wys die bereidwilligheid van die land om die vergrype te herstel. Ek hoop nou die buiteland neem kennis en help met die pad vorentoe.”

Hy weet egter nie of hy weer permanent sal terugkeer na Zimbabwe nie – selfs al word hy vir sy verliese vergoed. “Ek weet nie of ek nog fisiek die krag sal hê om terug te gaan nie, maar ’n mens het altyd hoop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.