Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Zola Budd, gesin deur orkaan vasgekeer
Zola Budd-Pieterse en haar drie kinders toe hulle nog klein was. Van links is Lisa, Azelle en Mikey. Foto: Getty Images

Die familie van Zola Budd-Pieterse was Vrydagaand erg bekommerd oor dié voormalige Suid-Afrikaanse atleet en haar gesin wat deur orkaan Florence vasgekeer is.

“Kon nie weg nie. Sewe kinders en ’n klomp diere!” was een van die SMS-boodskappe wat Zola se man, Mike Pieterse, Donderdagaand uit Myrtle Beach aan Thea Pieterse, Zola, se suster gestuur het voordat die kragtoevoer en telefoonverbinding in dié deel van Amerika afgesny is.

Die orkaan het die kus van Noord-Carolina intussen bereik en verwoesting gesaai.

CNN het wel berig dat Florence Donderdagmiddag laat tot ’n kategorie 1-storm afgegradeer is. Hoewel die windspoed afgeneem het, het kenners gewaarsku dat swaar reën die grootste bedreiging sou inhou.

“Kon nie ontruim nie – nou kan ons net bid!” lui die laaste boodskap wat Mike aan bekommerde familielede gestuur het.

Sedertdien was daar geen verbinding nie.

Die gesin en hul huis was glo buite die verpligte ontruimingsgebied.

Stormwind het skade in Ocean Avenue in Myrtle Beach, Suid-Carolina, aangerig nadat orkaan Florence die VSA se ooskus getref het. Sterk wind en hewige reën het honderde mense in hul wonings vasgekeer.Foto: Getty Images

Benewens hul tweelingkinders, Mikey en Azelle (20), en twee of meer van hul skoolmaats, is twee Suid-Afrikaanse atlete van Citrusdal in die Wes-Kaap ook in die egpaar se sorg. Hulle is Nadeel (21) en Andries Wildschut (19).

“Zola het hulle gewerf,” sê Thea, wat tans in Italië is.

Die twee atlete studeer aan die Coastal Carolina University waar Budd-Pieterse atletiek afrig.

Zola se ander dogter, Lisa (22), is in Baltimore waar sy as bioloog werk.

Thea sê haar suster-hulle het Maandag ’n waarskuwing gekry dat hulle op die grens van die verpligte ontruimingsgebied is.

“Toe het ons geglo dit is nog redelik veilig.”

Die vloedwater in die gebied was Donderdagaand egter reeds ’n meter hoog omdat die dreinering swak is, sê Thea.

Gister het die orkaan egter die gebied in felheid getref.

Met al die diere en kinders kon Zola-hulle nie net oppak en gaan nie.

Hulle het volgens Thea nie net die honde nie, maar ook drie katte en papegaaie.

Orkaan Florence het teen Vrydag die suidkus van Noord-Carolina getref en oorstromings veroorsaak. Foto: Reuters

Mike het vertel dat Mikey sakke gemaak het sodat hulle met honde op die rug in bome sou kon klim.

“Dit is nou as die boom bly staan.”

Zola, Suid-Afrikaans gebore middel- en langafstandatleet, en haar gesin woon reeds tien jaar in Myrtle Beach. Sy het reeds vyf Suid-Afrikaanse atlete gewerf om dit vir hulle moontlik te maak om aan nasionale kompetisies deel te neem.

“Dit is baie belangrik in Amerika. Hierdie kinders studeer gratis, kry goeie losies en ontvang selfs sakgeld.”

Die gesin het tien maande gelede in ’n nuwe huis ingetrek omdat daar groot bome en ruimte vir al die diere is.

Teen Vrydagaand het die gesin se familie nog geen inligting gehad oor hoe dit met hulle gaan nie.

Meer oor:  Orkaan Florence  |  Zola Budd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.