Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Westdene-busramp: ’n Mens kan nooit weer dieselfde wees nie, sê prof. Nelus Niemandt
Prof. Nelus Niemandt (58), moderator van die NG Kerk, het as 28-jarige predikant saam met ouers deur die Hillbrow-lykshuis gestap om tussen die lyke hul kinders wat in die Westdene-busramp dood is, uit te ken. Foto: Deaan Vivier

“Dit is ’n stuk heilige grond waarop ’n mens stap.”

Dit was prof. Nelus Niemandt (58), moderator van die NG Kerk, se ervaring toe hy as 28-jarige predikant saam met ouers deur die Hillbrow-lykshuis gestap het om tussen die lyke hul kinders wat in die Westdene-busramp dood is, uit te ken.

Hy beskryf 27 Maart 1985 as die mees traumatiese ervaring wat hy nog gehad het.

Lees ook

30 jaar ná die Westdene-busramp: ‘Dit is elke jaar moeilik’

Lesers herleef Westdene-busramp: 'Ek onthou die bloedstollende gil'

■ ​Die Westdene-busramp: 30 jaar later

“Die ou wat in bevel van die lykshuis was, kon die emosie nie meer hanteer nie. Hy het gebel en gesê ‘kom help my’.

Niemandt sê min mense weet hoe dit lyk as 42 kinders orals in die lykshuis, selfs op die vloer, lê. Daar was nie genoeg plek nie.”

Niemandt was ’n leraar by die NG kerk Triomf en het saam met ds. Piet van der Merwe die massa-begrafnisdiens gelei toe die kinders begrawe is. Hoewel nie al die kinders wat oorlede is lidmate van die NG Kerk was nie, was daar meer as 20 gesinne in die gemeente wat regstreeks deur die treurspel geraak is.

Hy het die begrafnisformulier op ’n sonskyndag op die massa-begrafnis voorgelees.

“Dit was ’n vreemde ervaring met die 30 wit kiste wat op een slag in die grond insak. Ek lees voor uit die begrafnisformulier, doen ’n gebed en die kiste sak . . .

“Daardie herinnering sal nooit verdwyn nie.”

Die ramptoneel bly hom ook by.

“Die verbystering van ’n bus in die water met net sy dak wat uitsteek . . .”

Hy was op die toneel toe die reddingswerkers en polisiemanne besig was om die lyke uit die water te haal en die oorlewendes te behandel. Die bus se flikkerligte het nog geflikker en geharde polisiemanne het op die toneel gestaan en huil. Hy was in daardie tyd ook polisie-kapelaan.

As jong dominee in sy eerste gemeente kon “al die opleiding en beradingskursusse” hom nie daarop voorberei nie.

Niemandt onthou daar was die Sondag ná die ramp ’n ruiker kosmos in die kerk.

“April is kosmostyd.

“Hulle het so ’n groot ruiker met kosmos in ’n kruik gesit en die kruik was op sy sy gedraai en van die blomme het half buite gelê.

“Dit is nie meer in die pot nie, dit sou sterf.

“Dít was die aangrypende simboliek daarvan.”

Daar is destyds berig dat die ongeluk “die hart van Triomf” uitgeruk het en daarna was die gemeente nie meer dieselfde nie.

“Die ramp was van toe af die bepalende verhaal van die gemeente. Dit was die plek waar ’n busramp die kinders uit die gemeente geruk het.”

Geen mens – die kinders, die ouers, polisiemanne, duikers, reddingswerkers en die skare op die toneel – sal volgens hom dieselfde kon wees ná die ramp nie. 

“Jou storie is nooit weer dieselfde ná so iets nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.