Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Ingenieur van SA help tuig op komeet land
Die momentumwiel – van 20 cm in deursnee – van die landingstuig Philae wat onder leiding van prof. Herman Steyn van Suid-Afrika ontwikkel is. Die tuig sal in November die eerste ooit wees om op ’n komeet te land. Foto: Ve

Wanneer die landingstuig Philae op 12 November op ’n komeet land, sal ’n stukkie Suid-Afrikaanse breinkrag ’n groot rol speel in sy sukses.

Die Europese Ruimte-agentskap sal geskiedenis maak wanneer hy die eerste word om ’n tuig op ’n komeet – 67P/Churyumov-Gerasimenko – te laat land.

Die tuig, Rosetta, wat reeds in ’n wentelbaan 10 km bo die komeet is, sal Philae loslaat en dié sal sewe uur later land. Die tuie reis al tien jaar lank na die komeet. Prof. Herman Steyn, groephoof van rekenaar- en beheerstelsels by die departement van elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), vertel dat hy destyds, terwyl hy die hoofingenieur en spanleier by Surrey Satellite Technology (SSTL) was, die projekleier was van die span wat die Philae se momentumwiel ontwikkel het.

Die wiel van 20 cm in deursnee, wat sowat 1,5 kg weeg, is uiters belangrik vir ’n suksesvolle landing. “Indien die momentumwiel nie werk nie, kan die landingstuig maklik begin tuimel, en dan sal hy nie op sy drie bene te lande kom op die komeet se oppervlak nie.”

Hulle moes baie aanpassings maak om te sorg dat dit geen elektronika bevat wat moontlik deur die bestraling in die ruimte aangetas kan word nie, juis omdat die reis so lank was.

Die bestraling wat dit moes weerstaan, is ’n reuse 15 krad. Jou liggaam kry gewoonlik 4 milli-rad geabsorbeerde bestraling tydens ’n interkontinentale vlug. ’n Dosis van 1 krad is genoeg om ’n mens dood te maak.

Die momentumwiel – waarvan die skyf van koper en die wielbasis van aluminium is – beweeg teen ’n spoed van 10 000 omwentelinge per minuut. Dit bly vertikaal terwyl die tuig daal. Die gebruik van olie as ’n smeermiddel was buite die kwessie, en daar moes gesorg word dat die twee metale nie aan mekaar raak nie. Buitengewone laers van metaalballetjies in ’n nylonring, sonder enige smeermiddel, is gevolglik gebruik om genoeg wrywing vir die vinnig draaiende skyf te verseker.

Steyn het van 1998 tot einde 2001 by SSTL, ’n satellietmaatskappy van die Universiteit van Surrey, gewerk en in 2002 by die US aangesluit. Die wiel is binne ses maande gebou.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.