Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Karoo in rep en roer met bou van MeerKAT-skottelantennas
Een van die vier MeerKAT-skottelantennas wat reeds op die Square Kilometre Array-terrein staan. Foto: Elsabé Brits

Die Karoo-landskap 85 km van Carnarvon sal oor twee jaar besaai wees met 64 skottelantennas wat elk byna 20 m hoog staan.

Alles is reeds bestel om elke groot en klein deeltjie van elk van dié skottelantennas te bou. “Oral in werkwinkels wat deel is van die projek kan jy instap en hulle is besig met MeerKAT,” het Willem Esterhuyse, projekbestuurder van MeerKAT, gesê.

Drie tot vier antennas word nou per maand vervaardig om teen Junie 2016 die eerste 16 opgerig te hê. Daar staan reeds vier op die terrein.

Prof. Justin Jonas, assosiaatdirekteur van SKA Suid-Afrika, sê daar is soveel verbeter op die prototipe KAT-7 se ontwerp dat MeerKAT vier keer vinniger sal wees as wat verwag is, én twee keer meer sensitief. Dit beteken dat die navorsingsvoorstelle wat reeds toegeken is, hersien sal word, omdat van dit vinniger gedoen sal kan word.

Lees ook:

■ ​Nuwe SKA-baas moes doktorsgraad in tronk voltooi

■ ​MeerKAT-teleskoop vorder fluks

■ ​Kyk: SKA haal mylpaal, Cyril Ramaphosa daar

Dit sal ook elektrisiteit bespaar.

Die beweegbare deel van elke antenna weeg 25 ton en word deur GD/Satcom gebou. Die aluminium-panele en die staalraamwerk wat dit steun, asook die voetstukke van 19 ton waarop alles staan, word in Johannesburg en Pretoria gebou en met vragmotors na die terrein vervoer.

Op die terrein word dit in ’n reuse-stoor geïntegreer en met ’n vragmotor na sy staanplek geneem. Die twee verste punte van die teleskoop is 8 km, maar 70% van die antennas kom in die kern, wat ’n deursnee van 1 km het. Wanneer MeerKAT klaar is, sal daar dus baie antennas in die middel wees, met twee op die verste punte - 8 km van mekaar.

Daar kom drie seinontvangers op elke antenna: die L-band en UHF, wat deur Suid-Afrika ontwerp word, en die S-band, wat deur die Max Planck-instituut vir radio-astronomie in Bonn, Duitsland, ontwerp word met €11 miljoen (sowat R154 miljoen) wat hulle belê het.

Die verskillende ontvangers kyk na verskillende frekwensies; dus kan verskillende waarnemings van die heelal gedoen word.

Die SKA begin einde Julie met die teer van die pad tot by die terrein. Dit is sowat 85 km lank. Dit sal egter sowat twee jaar neem, het Tracy Cheetham, infrastruktuur-bestuurder van die SKA-Suid-Afrika, gesê, want die vragmotors wat die MeerKAT-strukture bring moet steeds die pad gebruik.

■ Intussen is daar ook ’n kamera bo-op Losberg, die berg op die terrein, aangebring om alles dop te hou wat aangaan. Die aktiwiteit kan in Kaapstad gesien word en enkele kilometer weg vanuit die seinverwerkersentrum.

Radiofrekwensie-inmenging gaan ook gemonitor word vanaf ’n stasie wat op dié berg gebou gaan word. Dit word deesdae baie streng beheer – ’n selfoon mag nie eens meer aangesit word nie, al is daar nie ontvangs nie – video-opnames mag nie gedoen word nie, en kameras moet by uitsondering en met toestemming gebruik word. Geen elektroniese toerusting word toegelaat nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.