Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Bloodhound amper reg vir toetse

Die supersoniese Bloodhound-motor is feitlik gereed om met sy hoëspoedtoetse op Hakskeenpan in die Noord-Kaap te begin.

Die motor sal in die volgende twee weke van Gloucestershire in Engeland per vliegtuig na Suid-Afrika gebring word, berig die BBC.

Hakskeenpan. Foto: Conrad Borman

Die Bloodhound is gebou om volgende jaar die landspoedrekord van 1 228 km/h te probeer verbeter en is ’n mengsel tussen ’n ruimtetuig, ’n straler en ’n Formule 1-renmotor.

Dié Britse projek is in samewerking met die Noord-Kaapse regering ontwikkel en het uiteindelik die finale fase van sy bouprogram bereik.

Ingenieurs wil egter eers hul aannames oor die ontwerp deur ’n reeks subsoniese lopies toets.

Die toetse sal na verwagting in Oktober en November plaasvind, en die motor sal 13 toetslopies, wat elkeen geleidelik vinniger sal wees, uitvoer en uiteindelik ’n spoed van meer as 800 km/h bereik, berig The Engineer.

Luidens die Bloodhound Land Speed Record (LSR)-webtuiste is dit so vinnig soos ’n kommersiële vliegtuig, maar op die grond, en dit sal onmiddellik onder die tien vinnigste motors ooit wees.

Die motor ondergaan voor die vertrek ’n aantal goedkeuringstoetse. Maandag is ’n “droë krukas-toets” op die EJ200-straalmotor gedoen wat kontroleer of al die stelsels reg is en perfek werk.

Dié toets is ’n belangrike fase van die vooraftoetsprogram, luidens Bloodhound LSR. Dit bevestig dat die enjin en al sy bykomende stelsels, brandstof en elektrisiteit reg geïnstalleer is en gereed is om af te vuur sodra die motor in die volledige stelseltoets is, wat bevestig dat die enjin aangeskakel kan word.

Dit behels dat ’n hoëdruk-lugstroom in sy Aircraft Mounted Accessories Drive (AMAD)-ratkas geblaas word, wat op sy beurt die turbine van die straler tot op die vereiste beginsnelheid laat draai en ook krag vir die motor opwek.

Op volle ontwerpspoed kan die Bloodhound 1,6 km in 3,6 sekondes aflê, berig The Guardian. Die aluminiumwiele draai teen 10 200 omwentelinge per minuut – meer as vier keer vinniger as wiele op ’n F1-motor met ’n topsnelheid.

Die hoofingenieur, Mark Chapman, het gesê een van die hoofdoelwitte van die reis na die Noord-Kaap is om maniere te toets om nie net die motor vinnig te laat ry nie, maar om seker te maak dat dit veilig tot stilstand gebring kan word.

Twee valskerms sal ontplooi word om die motor tot stilstand te bring. As dit nie stop nie, sal dit sandduine tref.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Bloodhound
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.