Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Bloodhound maak 1ste kennis met Hakskeenpan se sand

Die Bloodhound- supersoniese motor is Maandag vir die eerste keer nóg op Hakskeenpan noord van Upington aan dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, en die wêreld bekend gestel.

Dit is die eerste keer dat dié motor met sy soliede aluminium-wiele, wat uiteindelik supersoniese spoed moet bereik, op die sandoppervlak geplaas is. Dié wiele moet in die volgende weke die gepaardgaande stres van ’n snelheid van tot 800 km/h deurstaan.

Luidens ’n verklaring van The Bloodhound Project is die oogmerk met die projek om Britse ingenieursvernuf aan die wêreld te toon.

“Dit is ook bedoel om mense van alle ouderdomme met die toepassing van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde te inspireer.”

Die Bloodhound- supersoniese motor, wat vir die eerste keer sy wiele op Hakskeenpan geskuur het, se neuspunt is van soliede titanium vervaardig. Foto: Elliot Davies

Die motor is van Engeland ingevlieg en in ’n spesiale tent op die pan aanmekaargesit.

Dit gaan vir die volgende drie tot vier weke vir verskeie toetslopies oor die gelyk woestynoppervlak gestuur word, voordat dit volgende jaar terugkeer vir die poging om ’n nuwe landspoedrekord op te stel.

“Een van die oogmerke is om die motor te evalueer wanneer dit spoed moet verminder en moet stilhou nadat dit teen so ’n hoë snelheid gejaag het. Eers wanneer die span tevrede is met die sleepweerstand en stopvermoë, sal hulle al hoe vinniger begin ry. Hulle sal in elke toetslopie die spoed met 80 km/h verhoog.

“Die span wil vasstel hoeveel sleepweerstand die motor in verskillende scenarios teen verskillende snelhede skep deur die gebruik van die remme op die wiele, die lugrem en een of albei die valskerms.

“Die data van 192 sensors op die motor sal met modelle vergelyk word. Die data van die sleepweerstand van elke toetslopie sal gebruik word om die grootte van die vuurpyl te bepaal wat volgende jaar op die motor gepas sal word om die landspoedrekord te probeer verbeter,” lui ’n verklaring.

Die Bloodhound- supersoniese motor se agterwiele is van soliede aluminium vervaardig. .Foto: Elliot Davies

Saul het in sy toespraak gesê dat die provinsie en die land ten volle agter die Bloodhound-projek is.

“Ons voel geëerd dat ons hiervan deel kan wees. My administrasie het ’n visie vir ’n moderne, ontwikkelende en suksesvolle provinsie. Ons kan dit net bereik deur die deelname van rolspelers wat bereid is om in die provinsie te belê. Sodoende kan ons uitdagings soos armoede, werkloosheid en onderontwikkeling pak.

“Projekte soos Bloodhound kan werk skep en vaardighede en die omliggende infrastruktuur ontwikkel. Almal kan baat by die maatskaplik-ekonomiese voordele.”

Die bekendstelling volg 11 jaar nadat die Bloodhound SSC-program in 2008 deur Richard Noble, voormalige landspoedrekordhouer wat in 1983 rekords met sy spoed van 1 019 km/h opgestel het, begin is.

Dié rekord is in 1997 deur Andy Green verbeter toe hy teen 1 227 km/h gejaag het. Dit was egter nog nie goed genoeg vir hulle nie, en Bloodhound is gebore.

Green, wat weer agter die titanium-stuurwiel sal sit, sê die span is die Noord-Kaapse regering en die Mier-gemeenskap geweldig baie verskuldig.

Hy sê nadat die span tien jaar gelede die Noord-Kaapse regering se hulp gevra het om op Hakskeenpan te jaag, het hulle fantastiese samewerking gekry.

“Die Mier-gemeenskap het oor die afgelope jare duisende en die afgelope weke honderde klippe van die oppervlak af verwyder. Hulle moes skoonmaak omdat klippe ná elke reënseisoen weer op die oppervlak verskyn,” sê Green.

Die hoëspoedtoetse sal deur die motor se Rolls-Royce-straalenjin aangedryf word.

Die Bloodhound- supersoniese motor van die kant. Foto: Elliot Davies
Die spanlede van die Bloodhound- projek staan trots by die supersoniese motor wat eersdaags oor Hakskeenpan gaan jaag. Foto: Facebook/The Bloodhound Project
Meer oor:  Dr. Zamani Saul  |  Hakskeenpan  |  Rekord  |  Bloodhound-Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.