Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Bye snuffel virus in oogwink uit

Nederlandse navorsers het bye opgelei om bloedmonsters wat met die koronavirus Sars-CoV-2 besmet is, te identifiseer.

Dié wetenskaplikes meen bye, met hul uiters sterk reuksintuig, kan die wagtydperk vir uitslae van dié virustoetse drasties verkort.

Die bye is by die bio-veeartsenykunde-navorsingslaboratorium by die Universiteit van Wageningen opgelei deur middel van ’n beloningstelsel.

Prof. Wim van der Poel, professor­ in virologie wat aan die studie deelgeneem het, sê ’n bloedmonster wat met die virus besmet is, is voor die bye geplaas en daarna is die bye met suikerwater beloon. ’n Bloedmonster wat nie besmet is nie, is daarna voor die bye geplaas en die beloning is weggevat.

Van der Poel sê die bye het so gewoond geraak aan die beloningstelsel dat hulle outomaties hul tonge begin uitsteek het om die suikerwater te kry die oomblik dat ’n besmette bloedmonster naby aan hulle gebring is.

Die uitsteek van die tong is volgens Van der Poel gelykstaande aan ’n positiewe koronavirustoets. Die verskil is dat die bye nie ure (of selfs dae) neem om uitslae te verskaf, soos die geval met tradisionele toetse is, nie.

Tog is daar nie sprake dat die bye binnekort by die laboratoriums gaan oorneem nie.

“Dit is ’n goeie idee en ’n interessante­ bevinding, maar ek dink toetse moet steeds op die klassieke diagnostiese metodes gedoen word,” sê prof. Dirk de Graaf, kenner van insekte- en diere-immunologie aan die Universiteit van Gent in België.

De Graaf gee toe dit is nie die eerste keer dat bye se reuksintuie deur mense ingespan word nie.

“Die Amerikaanse departement van verdediging het in die 1990’s bye gebruik om plofstof en gif uit te snuffel.”

Daar is wel volgens hom nog nie genoeg toetse en navorsing by die Universiteit van Wage­ningen gedoen om werklik die doeltreffendheid van bye te bepaal as dit by die koronavirus kom nie.– Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.