Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Cyril wens Elon geluk met historiese SpaceX-vlug

Pres. Cyril Ramaphosa het die Suid-Afrikaans gebore Elon Musk geluk gewens met sy ruimtevaart-onderneming SpaceX se historiese eerste bemande vlug na die ruimte.

Ramaphosa se gelukwensing kom nadat SpaceX die afgelope Saterdag geskiedenis gemaak het deur die twee ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley van Nasa met sy eie Crew Dragon-kapsule vanaf die Kennedy-ruimtesentrum by Cape Canaveral die ruimte in te stuur. Dit het 19 uur later by die Internasionale Ruimtestasie (ISS) aangekom.

Ramaphosa se kantoor het Maandag verder hieroor in ’n verklaring gesê dat Musk die land en kontinent trots gemaak het siende dat sy prestasie midde-in die internasionale stryd teen die Covid-19-pandemie gebeur het.

“Die Dragon se suksesvolle vlug na die Internasionale Ruimtestasie spreek oor die vermoë van ’n veerkragtige, ywerige, vreeslose en visioenêre individu om talent en materiële hulpbronne te benut om nuwe grense van hoop, avontuur en geleentheid vir geslagte in die toekoms oop te maak.

“Dit is gepas dat ons hierdie hoop en opwinding gegee is in ’n tyd wat onsekerheid die menslike gemoed in baie dele van die wêreld bepaal,” het Ramaphosa gesê.

Musk hou Suid-Afrikaanse, Kanadese en Amerikaanse burgerskap.

Saterdag se lansering was ook die eerste keer in die geskiedenis dat ’n private entiteit ruimtevaarders van Nasa, ’n entiteit van die Amerikaanse regering, die ruimte ingestuur het.

The Washington Times het vroeër berig dat die lansering Saterdag plaasgevind het vanaf dieselfde lanseringsblad van waar die historiese Apollo 11- bemande sending in 1969 na die maan vertrek het.

Die Crew Dragon-kapsule het 12 minute ná lansering van die Falcon 9-vuurpyl-aanjaer ontkoppel en sy tog na die ISS voortgesit.

Die Falcon 9 het veilig na die aarde teruggekeer en ’n volmaakte landing op die dek van die onbemande skip genaamd Of Course I Still Love You gedoen, het SpaceX ná die landing getwiet.

Behnken en Hurley is albei oudlugmagvlieëniers wat al voorheen ruimtereise onderneem het.

Sowel pres. Donald Trump as adj.pres. Mike Pence, wat voorsitter is van Amerika se Nasionale Ruimteagentskap, het die lansering by Cape Canaveral bygewoon.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Elon Musk  |  Spacex  |  Ruimtevaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.