Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Die buitengewone skaars savant

Sy getoetse IK was net 87, maar hy kon in tien sekondes twee bladsye gelyktydig lees deur die een bladsy met die linkeroog te lees en die ander bladsy met die regteroog.

Laurence Kim Peek, op wie se lewe die rolprent Rain Man losweg gegrond is. Foto: Wikipedia

Laurence Kim Peek, wat in 2009 in die ouderdom van 59 aan ’n hartaanval dood is, was die inspirasie vir die fliek Rain Man met Dustin Hoffman in die rol.

Peek was ernstig gestremd. Al het hy verstommende vermoëns gehad, moes hy heeltydse sorg kry om byvoorbeeld sy tande te borsel.

Hy was ook nie outisties soos uitgebeeld in die fliek oor hom nie. Die skaars genetiese toestand wat hy gehad het, is FG-sindroom, wat weens genetiese veranderinge op die X-chromosoom voorkom.

Die FG dui op die letters van die vanne van die eerste twee pasiënte wat in 1974 daarmee gediagnoseer is. Die sindroom lei tot intellektuele gestremdheid, lae spiertonus, hiperaktiwiteit en spesifieke gelaatstrekke.

Peek is erken as ’n savant, een van die mees besonderse nóg. Maar sy brein het nie ’n corpus callosum gehad nie (bekend as agenesie van die corpus callosum). Die corpus callosum is die grootste witstofstruktuur in die brein en verbind die linker- en regsterhemisfeer met mekaar.

Dit speel ’n groot rol in die kommunikasie tussen die twee hemisfere en bly groei tot ’n mens 12 jaar oud is.

Sowat 40% van mense wat nie ’n corpus callosum het nie, kan aan outisme ly.

Kenners wat Peek ondersoek het, dink sy besonderse geheue is danksy unieke senuweeverbindings wat gemaak is, juis omdat die corpus collusum afwesig was. Skanderings van sy en ses ander mense soos hy se breine het getoon die netwerk verbindings in die brein, sekere bondels senuwee, is heeltemal anders as in dié van ander mense se breine.

Die brein kan soms groot plastisiteit toon deur die werk oor te neem van dele wat vermis word of nie behoorlik werk nie. Maar dit gebeur nie by almal nie.

Outistiese spektrumstoornisse (OSS), is ’n groep neuro-ontwikkelingstoornisse wat deur gebrekkige sosiale interaksie en kommunikasievaardighede gekenmerk word. Dit kom gereeld voor saam met ander gedragsimptome soos herhalende en stereotipiese gedrag en abnormale sensoriese prosessering. Kognitiewe inperking varieer. Dit is ’n spektrum van toestande.

Daar is tans nie ’n biologiese toets vir OSS nie, maar wat kenners weet, is dat die grondslag daarvoor geneties is en kinders daarmee gebore word. (Die entstof-storie dat dit glo outisme veroorsaak is eenvoudig net vals, en daar is geen bewyse daarvoor nie. Dis nie werd om weer te herhaal nie.)

Studies oor Peek het gehelp om mense se wanopvattings oor diegene met intellektuele gestremdhede reg te stel.

Volgens die outisme-genoomprojek, wat al in 2004 begin is, kan 5% tot 10% van OSS toegeskryf word aan enkelgene, wat unieke toestande is. Die meeste is weens talle gene op verskillende chromosome. Dit is 90% oorerflik, maar die rol van omgewingsfaktore in die baarmoeder word ook ondersoek.

Mense met die vermoë van ’n savant, terwyl hulle andersins intellektueel gestremd kan wees, is uiters skaars. Dit word beskryf as savantsindroom. Na raming kan een uit elke 2 000 mense met die een of ander vorm van intellektuele gestremdheid dit hê. Maar nie alle mense met OSS het savantsindroom nie en nie alle mense met savantsindroom het OSS nie.

Volgens navorsing is die vaardighede van ’n savant grootliks beperk tot vyf vermoëns: Musiek, kuns, wiskunde, kalenderberekenings (wanneer iemand byvoorbeeld blitsig kan uitwerk op watter dag van die week 12 Maart 1376 geval het), meganiese en ruimtelike vaardighede.

Die soort super-geheue wat Peek gehad het, was verstommend, maar dit word verbind met gewoontegedrag. Die geheue is “diep”, maar “nou”, dit is nie ’n semantiese geheue wat gekoppel word aan algemene kennis nie.

Mense wat savante is, bly verstommend interessant. Dit getuig van die brein se plastisiteit.

Daar is mense wat nie so gebore is nie, maar later in hul lewe skielik uitsonderlike vermoëns toon weens ’n breinbesering of siekte wanneer skade aan die brein op ’n buitengewone wyse manifesteer. Dit is uiters skaars en omtrent net 20 gevalle is bekend.

Die meeste van hulle was glad nie kunstig nie, maar het skielik indrukwekkende beeldhouwerk of skilderkuns gemaak. Of skielik musikale talent getoon.

Elsabé Brits

Jason Padgett is in 2002 buite ’n kroeg in Amerika aangeval en het ernstige breinskade opgedoen.

Daarná kon hy skielik teken en het in fisika en meetkunde belanggestel. Hy “voel” die vorms wat hy teken – ’n toestand bekend as sinestesie.

Hy het egter nou ook obsessief-kompulsiewe gedragstoornis en angs. En dis vir hom moeilik om tussen mense te wees.

Studies oor Peek het gehelp om mense se wanopvattings oor diegene met intellektuele gestremdhede reg te stel. Hy en sy pa het in die openbaar verskyn om stereotipes af te breek en het gehelp om te verduidelik dat daar nog baie meer oor die brein te leer is.

Meer oor:  Hoe Werk Dit  |  Wetenskap  |  Outisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.