Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Die nagmerries in jou brein is nie weens kaas

Ons almal ken daardie droom, dit is só angswekkend jy raak sommer weer bang wanneer jy iemand ná die tyd daarvan probeer vertel.

’n Nagmerrie is nie ’n gewone droom nie. En nagvrees (“night terror”) is ’n merrie van ’n gans ander kleur.

Nagvrees is wanneer jy skielik wakker word en dit voel of iets yskoud oor jou geloop het. Jy weet nie wat dit was nie en kan niks onthou nie. Jy is so bang, jy wil vasgehou word.

Nagvrees tref ’n mens in die middel van jou slaapsiklus wanneer jy diep slaap. Die intense gevoel van vrees en angs kan jou oorkom wanneer jy van een droomfase na ’n ander oorskakel en dan wakker word.

Gelukkig slaan nagvrees nie te veel toe nie, en indien wel, is dit ’n erkende slaapstoornis. Dit is nagvrees wat kinders in hul slaap laat gil, skop en kerm, maar gelukkig onthou hulle dit nie die volgende dag nie. Uiteindelik ontgroei kinders dit.

’n Nagmerrie word weer onderskei van ’n gewone onaangename droom en van nagvrees.

Drome is deel van die brein se interessante netwerk van streke wat met mekaar verbind is in die talamus, posterior-korteks, middelste prefrontale korteks en die posterior sulkus (’n diep groef wat parallel met die corpus callosum loop). Die hippokampus en amigdala speel net so groot rol.

’n Nagmerrie is ’n spesifieke soort droom, dit is nie bloot ’n slegte droom nie. Hulle voel realisties is helder en wek angs en emosies op. Dit is ’n droom wat jou veiligheid en oorlewing bedreig – of só voel dit.Foto: Pixabay

Slaap bestaan uit fases wat mekaar afwissel. Die fase van vinnige oogbeweging (REM) begin 90 minute nadat jy aan die slaap geraak het en die brein is baie aktief, maar die res van die liggaam is basies verlam – die arms, bene, en selfs vingers en tone.

Dit is sodat jy nie jou drome uitleef nie, maar sou daar iets skeefloop met die spierverlamming, is dit tipies dat mense in hul slaap loop, selfs iets gaan eet. Dit is ’n soort stoornis en daar was al gevalle waar mense ander aanval en slaan in hul slaap. In baie uitsonderlike gevalle is mense selfs al doodgemaak deur iemand wat slaap.

Navorsing wys dat ’n neuro-oordraer glikokol en nog een gamma-aminobottersuur (GABA) nodig is, afgeskei in die brein, vir die spiere om verlam te word. Dit is ook baie belangrik later in jou lewe om te voorkom dat jy nie neuro-degeneratiewe siektes soos Parkinson se siekte kry nie.

In REM-slaap klop jou hart vinniger en jy haal vinniger asem en die oë beweeg heen en weer. Maar dié slaapperiode is nie aaneen nie, dit gebeur in blokke van vier of vyf in die nag en maak 20% van slaap uit.

Nagmerries gebeur tydens die REM-slaap wanneer jy sluimer – wanneer jy gereedmaak om wakker te word en die brein die inligting begin konsolideer en dus onthou.

Post-traumatiese stresstoornis (PTSD) en nagmerries het ’n nou verband, al dink jy nie jy ly daaraan nie. Dit is ’n toestand wat baie algemeen is en jou brein, of drome dwing jou om aandag te skenk.

Navorsing wys ook nagmerries het ’n impak op ’n mens se emosionele toestand. Tydens ’n nagmerrie ervaar mense skuldgevoel, verwarring, hartseer, emosionele pyn, aggressie, bedreiging en onsekerheid. ’n Nagmerrie is nie net altyd vrees en angs nie.

Die nagvrees aan die ander kant, kom nie uit REM-slaap nie, daar is ook nie ’n narratief, of storie nie. Dit kom uit ’n dieper en minder aktiewe deel van die brein. Al wat jy kan onthou, is vrees af dalk net een beeld. Jy sal weet as jy dit al oorgekom het.

Die REM-slaap is baie belangrik vir die brein. In dié tyd vind daar uitdrukking van gene plaas wat die kommunikasie in die hippokampus en die neokorteks verbeter. Dit help die brein beter kommunikeer, dat daar beter prosessering in geheue is en dat hy ’n soort balans kan vind.

In die brein is daar ’n dun lagie witstof genaamd die claustrum, onder die neokorteks. Dit skakel die belangrike areas van die brein met mekaar en is betrokke by emosionele verwerking, geheue en aandag. Tydens REM-slaap speel dié area en deel van die hippokampus ’n groot rol om inligting en veral emosies te verwerk, en aandag te hou.

Hoe ons droom, nagmerries en al, speel dus ’n rol oor hoe ons voel en hoe ons geheue stoor. Geen wonder jy voel nie lekker die volgende dag indien jou slaap versteur is nie.

Gee kaas jou nagmerries? Dit is ’n gebruik om kaas te eet ná poeding in die aand. Enige vetterige kos kan jou slegte spysvertering gee wat jou definitief sleg sal laat slaap. Om voor bedtyd te eet, sorg ook vir ’n slegte nagrus. Ander meen triptofaan, ’n aminosuur wat in alle suiwel en meeste proteïene voorkom, is verantwoordelik vir drome.

Wie weet? Dat dit eerder in jou brein se diepste kamers ontstaan en ’n rol speel is waarskynlik omdat dit al eeue lank oor kulture heen bestaan. Nog lank voor kaas.

Elsabé Brits is ’n wetenskapjoernalis.

Bronne: Nature Neuroscience (10 April 2017); Harvard-neurologie; Sleep Med Clinical (Desember 2009); American Academy of Sleep Medicine.

Meer oor:  Hoe Werk Dit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.