Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Die storie van huis, muis en kat

Daar is ’n storie tussen mense, huismuise en katte wat duisende jare gelede ver teruggaan, en wat argeoloë op verskeie terreine uitgesnuffel het. Die drie se verhouding met mekaar is nie toevallig nie.

Die huismuis leef al lank saam met die mens, en met die huiskat. Foto: Bettina Wernisch

Kenners het die geskiedenis en biologiese indringing van die huismuis (Mus musculus domesticus) nagevors en dié werk is dié week in die vaktydskrif Scientific Reports gepubliseer.

Hulle het opgrawings gedoen op 43 verskillende terreine waar mense geleef het in die suide van Europa en Asië, op soek na die oorblyfsels, meestal die tande, van huismuise. Altesame 823 is toe gevind. Die oudste huismuis dateer van 40 000 jaar gelede en die jongste was 3 000 jaar oud.

Die idee was om onder meer te sien wanneer het die huismuis by die mens ingetrek het. Dit het reeds so lank gelede as 14 500 jaar gelede gebeur toe van die eerste jagterversamelaars al hoe langer op een plek begin bly het. Teen 12 000 jaar gelede het mense begin boer en graan gestoor in die Levant, die eerste gebied waar boerdery en nedersettings begin het. Die huismuise, waarvan daar drie subspesies was, was toe reeds deel van ons bestaan.

Wanneer mense lank op een plek gebly het, het die huismuis beter gevaar as die wilde spesies en is hulle verstoot na die rand van die nedersetting.

Sodra daar droogte of voedseltekorte was, het mense weer getrek, en die balans tussen die verskillende muisbevolkings is herstel. Uiteindelik het die huismuise wel dominant geraak.

In die grootste gedeelte van Europa het die huismuis eers 6 500 jaar gelede deel van mense se bestaan geword toe boerdery daar posgevat en mense begin handel dryf het. Dit het stadiger daar gebeur as in die suide van die Levant. Die oorgang van ’n bestaan as jagterversamelaar na boerdery, nedersettings en dorpe was baie, baie stadig omdat dit ’n totale ommekeer in gedrag en leefwyse was.

Daar verskyn toe ’n nuwe vriend. Die huiskat wat mak gemaak is, vandag erken as sy eie spesie, en met sy tientalle rasse.

Volgens dié studie was dit die talle huismuise wat gehelp het dat die huiskat wyd oor Europa begin versprei het. Die heel eerste bewyse van die huiskat is op Ciprus, waar dié 9 000 jaar gelede saam met ’n vrou begrawe is.

Volgens die studie is katte mak gemaak om die graan en ander oeste te beskerm teen voëls en knaagdiere, wat saam met die landbou gekom het.

Dié verhouding was lank voor die historiese verwysings na katte in antieke Egipte. Teen 6 400 jaar gelede was huiskatte in die hedendaagse Bulgarye, teen 5 200 jaar gelede in Roemenië en 5 000 jaar gelede in Pole.

Elsabé Brits

Later jare het die huismuis oor die wêreld heen gereis, op skepe. Deur hul genetika te bestudeer, is daar ’n paar jaar gelede gesien hulle het saam met die Noorse Vikings gereis. Muisbeendere wat op Vikingterreine in Ysland en Groenland gekry is, dateer van die tiende eeu.

Toe dit vergelyk is met die DNS van die huismuis van Noorweë is gesien hulle kom inderdaad van daar af, asook van Denemarke.

Die huismuise van Newfoundland kom weer van die 15de eeuse Engeland af.

Hulle is interessante diere wat mekaar roep op baie hoë frekwensies, veral as hulle met die teenoorgestelde geslag kommunikeer. Huismuise maak komplekse ultrasoniese praatjies, baie soos dié van voëls, met sillabes, frases en herhalende sinne. Hiermee kan hulle mekaar en hul maats herken.

Sodra hulle met ’n muis van die ander geslag praat, verskil die toonhoogte ook. Toe kenners hulle bestudeer het, was die ultrasoniese vokalisasies wat binne 20 minute opgeneem is, meer as 2 000.

DNS-ontleding toon die antieke huiskatte het strepe gehad, kolle in katte was tot in die Middeleeue ongewoon. Daar is vyf subspesies van die wildekat (Felis silvestris) bekend vandag. Die huiskat het ontstaan uit een van hulle (Felis silvestris lybica). Soos mense gereis het, het hulle ook katte saam met hulle op skepe geneem, saam die huismuise en die graan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.