Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Die waarde van ’n walvis

Wat is die waarde van een boggelrugwalvis?

Daardie wonderlike soogdier van die oseaan wat ’n mens nie eintlik kan waardeer nie, want jy sien net so ’n stukkie van sy glorie, hoor net ’n klein deel van sy geluide.

Hulle is van ons beste vennote op aarde. In ’n artikel in National Geographic is onlangs berig dat die waarde van enige groot walvis bereken is deur die Internasionale Monetêre Fonds: Elke walvis is sowat $2 miljoen werd en saam is almal sowat $1 000 miljard werd.

Die rede is dat hulle die aarde help om van koolstof ontslae te raak. Dit bou op in hul vet- en proteïenryke liggaam en elkeen hou tonne koolstof in sy liggaam – net soos ’n boom. Wanneer hulle doodgaan, sink die karkas tot op die bodem van die see en die koolstof word vir honderd duisende jare uit die atmosfeersiklus geneem, lui die artikel.

‘n Baie skaars foto van ‘n boggelrugwalvis en haar pasgebore kalf. Die ma ondersteun die kalfie op haar rug. Foto: Marine Mammal Research Program/NOAA permit: #20311-01

Die walvisse neem elke jaar 30 000 ton koolstof na die bodem van die diepsee. Indien daar nog soveel walvisse was soos voor die kommersiële jag op hulle, dan sou hulle jaarliks van 160 000 ton koolstof ontslae kon raak.

Hul waarde kan egter nie werklik bepaal word nie, soos derduisende ander diere ook wat ons nodig het om die ekologie, en uiteindelik die wêreldekonomie, stabiel te hou.

Ook wanneer walvisse lewend is, neem hulle koolstof uit die atmosfeer, want hul afskeidings is ryk in voedingstowwe wat plankton laat groei. Sonder plankton is daar nie fotosintese in die see nie en plankton neem ook koolstof uit die atmosfeer. ’n Kosbare en nodige siklus – waarmee ons tans mors.

Die boggelrugwalvis is ’n verstommende dier, ook sy evolusie. Onlangs is daar vir die eerste keer gesien hoe hulle hul vinne gebruik om vis aan te jaag en op te skep om te vreet. Die waarneming is met ’n hommeltuig gedoen sodat dié gedra van bo-af waargeneem kon word. Nadat permitte daarvoor in Alaska verkry is, is kameras ook aan die walvisse self geheg om hul gedrag dop te hou, soos in die vaktydskrif Royal Society Open Science gepubliseer.

Die walvisse se lang borsvinne, tot 5 m lank, help hulle om vinnig te navigeer en te versnel. Die walvis swem vinnig in die rondte om ’n net van borrels te vorm. Dit is ’n komplekse en unieke manier wat hulle gebruik om die vis in dié gebied vas te keer. Daarna keer hulle dat die vis, in dié geval jong salm, uit die net van borrels ontsnap en spring dan vertikaal om, om ’n groot klomp visse gelyk te vreet.

Daar is al voorheen gesien hoe die boggelrugwalvis hulle kleintjies ophelp na die oppervlak om asem te kry deur hulle lang borsvinne te gebruik. Hulle kommunikeer ook met hul vinne.

Sowat 3 000 boggelrugwalvisse besoek Alaska in die somer om te voed en tot 10 000 kalf in Hawaii in die winter. Sodra hulle die plek verlaat waar hulle voed, reis hulle sowat 4 800 km suid en hou op voed totdat hulle weer maande later terugkeer.

Elsabé Brits

Die navorsing oor hoe, waar en hoe gereeld hulle vreet, help die kenners om te bepaal hoe die walvisse se liggame verander en groei. Dit sê ook baie oor hul gedrag, hoe hulle hul prooi manipuleer en hulself voorberei om hulle te vang.

Die spesie Llanocetus denticrenatus van 34 miljoen jaar gelede is ’n antieke voorsaat van die modern reuse van die see. Hy het egter tande gehad. Net soos moderne walvisse het hy groewe in sy mond gehad wat die bloedvate bevat wat die hedendaagse walvisbaard van bloedtoevoer voorsien. In die oerwalvis is ook die tandvleis en tande van bloed voorsien.

Uiteindelik het die tande met evolusie verdwyn en die walvisbaard het ontwikkel. In stede daarvan om hul prooi te byt, het hulle begin om dit in te suig.

Tans is daar groot onsekerheid oor hoeveel walvisse van al die spesies oor is: 29% van die 89 spesies wat in 2017 geëvalueer is, is bedreig. Die helfte kon egter nie geëvalueer word nie omdat daar ’n gebrek aan data oor hulle is.

Hulle loop saam met dolfyne en ander soogdiere van die oseaan, soos seeotters en die besonderse lamantyn (manatee), die gevaar van uitsterwing.

Bronne: National Geographic; Royal Society Open Science https://doi.org/10.1098/rsos.191104; Current Biology (2018), https://doi.org/10.1016/j.cub.2018.04.027

• Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Hoe Werk Dit  |  Walvis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.