Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Dinosourus wat grawe soos erdvark

Die fossiele van twee klein insekvretende dinosourusse wat baie aan voëls én erdvarke herinner, is pas beskryf.

Prof. Jonah Choiniere, paleontoloog verbonde aan die Instituut vir Evolusionêre Studies aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), is een van die navorsers wat by dié studie betrokke is.

Die linkerhand van Bannykus met die groot linkerklou op die duim en die kleiner kloue op die ander vingers. Dié klein dinosourus het, soos ’n erdvark, insekte uitgegrawe. Foto: Jonah Choiniere/Wits

Albei fossiele is in die noordweste van China gevind. Die navorsing het in die vaktydskrif  Current Biologyverskyn.

Choiniere sê die fossiele is sowat 120 miljoen jaar oud en albei sou sowat 15 tot 20 kg geweeg het.

Hulle word as Alvarezsauria beskryf – dinosourusse wat op twee bene geloop het en vere sou gehad het. Hulle het tipies drie tone gehad.

Daar was baie ooreenkomste met voëls en die fossielrekord dui die aanpassings aan wat hulle gemaak het om insekte te eet wat tipies in kolonies woon – byna soos hedendaagse miervreters en erdvarke.

Choiniere verduidelik die vroegste Alvarezsauria het egter nié insekte geëet nie, maar hulle het tande en pote gehad wat klein prooi sou gejag het. Later het hul tande kleiner geword en die hand het ontwikkel in ’n groot klou wat kon grawe of vrot hout kon oopbreek.

’n Kunstenaarsvoorstelling van vier belangrike spesies (Alvarezsauria). Dit is klein dinosourusse wat onder meer vere gehad het en wat met tyd aansienlik verander het. Van links is Haplocheirus, Xiyunykus, Bannykus en Shuvuuia. Voorstelling: Viktor Radermacher

Die twee nuwe fossiele, Bannykus en Xiyunykus, het lang arms en dit wys die korter arms het dus later in hulle evolusionêre geskiedenis eers ontwikkel. Dit is anders as die klassieke voorbeeld van die T. rex wat kort arms en ’n groot lyf gehad het.

Die twee nuwe fossiele is belangrik omdat dit wys hoe die spesies aangepas het by ’n dieet. Dit is net soos die evolusie van die perd, wat wys hoe anatomie oor tyd aansienlik verander het om by die ekologie aan te pas. Fossiele is die beste voorbeeld van hoe anatomiese kenmerke oor tyd verander, sê prof. James Clark, mede-outeur, ook verbonde aan Wits en aan die George Washington-Universiteit in die VSA.

Choiniere sê die Chinese navorsingspan het Suid-Afrika verlede jaar besoek en het ’n week lank fossiele “saam met ons gesoek”.

“Hulle het wonderlike nuwe fossiele en ook ’n nuwe klein soogdier gevind. Ons werk nog aan die materiaal en hopelik sal dit binnekort gepubliseer word,” sê hy.

Meer oor:  Wetenskap  |  Navorsing  |  Ontdekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.